6 “Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie met hulle pote vertrap, en die honde nie omspring en julle verskeur nie.”
7 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle sal oopgemaak word.
8 Want elkeen wat vra, ontvang;
en wie soek, vind;
en vir wie klop, sal oopgemaak word.
(Matteus 7:6-8)
ʼn Vark is nie moedswillig wanneer hy pêrels in die modder intrap nie. Hy snap eenvoudig net nie wat hy doen nie – vir hom is ʼn pêrel net nog ʼn klip. Iemand wat nie ootmoedig, dankbaar, pleitend voor die Grote God buig nie, dink nie eens aan die Drie-Enige se goedheid, barmhartigheid of heerlikheid nie. Hy is so blind vir God soos ʼn vark vir ʼn pêrel. Net gebed, ʼn geskenk van God, bewaar ons van dié soort blindheid en die ramp wat daarop volg. Immers, mense wat nie by die Here leer bid nie, beur domweg voort tot hulle uiteindelik soos die varke van Gadara teen die helling af die see instorm[1].
Almagtige Vader wat die deur oopmaak wanneer ons klop, wat Uself laat vind wanneer ons soek, wat gee wanneer ons vra – óns Vader, óns God, U is die barmhartige en genadige God, die Een wat geduldig, en oorvloedig in troue liefde en waarheid is;[2] U is self die pêrel sonder gelyke!
En ons, ons is soos die handelaar wat hierdie Pêrel, die kosbaarste van alle pêrels, gevind het. Ons kon hierdie Pêrel vind omdat ons self eers gevind is; U het ons gevind, gekry voor ons nog ons skuld kon bely [3]. Om U te mag hê as ons God, is so waardevol dat ons desnoods alles kan verkoop[4]; kan prysgee; kan opoffer[5] net maar om u teenwoordigheid te kan beleef, net maar om hierdie Pêrel te kan besit.
Daarom offer ons ook ons tyd op om bewustelik, ja, Doel-bewus in gebed by U te wees. Want by U word die tyd oomblikke van ewigheid.[6] By U verdwyn ons gejaagdheid. U sien ons onrus raak[7] en U troos ons, want U is ons Herder. As ons nie by U is nie, is ons soos dwalende skape. Maar ons kan U altyd weer vind, omdat U ons eerste kry![8] U is immers die Hemelse Boer wat, as een skaap weg is, op ʼn soektog vertrek om hom of haar terug te kry.[9]
Hoor dan, o Geduldige Heer, hóór ons gebed! Dit is nie net ʼn gebed wat bly is oor U nie, maar ook voorbidding vir ons verwarde, gejaagde ongeduldige wêreld. O, Ewige, hoor ons gebed vir ʼn wêreld wat nie meer tyd het om by U te wees nie.
Ons sien hierdie ongeduld op ons paaie en in die strate van ons stad. En wanneer ons die dolle gejaag en oneindige, onstuimige rusteloosheid van die wêreld om ons gade slaan, dan lyk die wêreld vir ons soos die varke van Gadara wat bult-af gestorm het om in die see te versuip. Maar ons, en die mense om ons, óns is tog nie gemaak om soos die varke te wees nie; óns is gemaak om soos U te wees. Ons is na u beeld geskape! Wat meer is, U het ons, ons wat hierdie gejaagde wêreld is – U het ons só lief dat U u eie Seun gegee het sodat ons kan lewe.[10] So baie van ons haal asem sonder om te lewe.
Here Jesus, U wat die mense van u tyd innig jammer gekry het, omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder ‘n herder.[11] Help ons, o Heer, ons wat vrede en oomblikke van ewigheid by U gevind het, help ons om die mense wat dit nie ken nie, sag aan te moedig tot gebed, tot stilte, en rus, by U. Lê tog die drang om tyd saam met U deur te bring; die drang om al biddende in u teenwoordigheid te leef; lê hierdie drang in hulle ook.
Laat ons gemeente se begeerte om nader aan U te kom soos ʼn helder lig die baken in die nag word, wat mense lok om ook by U te wees.
En laat bo alles, u Naam geheilig wees!
Amen.
[1] Matteus 8:28-32
[2] Eksodus 34:6-7
[3] Matteus 13:45-46
[4] Matteus 13:45-46; 19:21-22
[5] Lukas 14:25-33
[6] Lied 255:2
[7] Lied 139:11
[8] Lied 190:2
[9] Lukas 15:1-7
[10] Johannes 3:16
[11] Mat 9:36
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.