Dagstuk | Donderdag 13 Februarie 2024

Dagstuk | Woensdag 12 Februarie 2025
Dagstuk | Vrydag 14 Februarie 2025

Handelinge 9:4. Ons is besig om teen God te stry?

Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy my? “Wie is U, Here?, vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy.

Die storie van Saulus (Paulus) is fassinerend. Van kleins het hy homself toegewy om binne die Joodse godsdiens getrou aan God te leef. Hy het getrou die Ou Testament gelees, sy kennis in God se woord verdiep en  praktiese nougesette waardes en beginsels wat daaruit voortvloei, nagevolg. Hy het sy ywer vir God uitgeleef deur die Joodse godsdiens te beskerm teen die opkoms van ’n godsdienstige groep wat Jesus van Nasaret nagevolg het. Hy was self teenwoordig by die steniging van ’n vername navolger van Jesus, Stefanus, wat hy goedgekeur het. Hoe gebeur dit dat ons met hart en siel vir God kan kies en nougeset volgens die beginsels van hierdie godsdiens kan leef en tog in dit alles besig is om dieselfde Here te vervolg? Wat met Saulus gebeur het, kan en gebeur ook met ons. Tot net voor die koms van Jan van Riebeeck aan die Kaap in 1652 het die godsdienstige oorlog tussen Roomse en Protestantse Christine gelei tot die dood van tussen ag tot twaalf miljoen gelowiges. Die een groep was oortuig dat hulle in diens van God besig is om die kerk suiwer te hou en te laat voortleef. Ons staan vandag steeds voor dieselfde uitdaging. In die tyd van Epifanie moet ons bewus wees dat God op veel groter maniere, as wat ons kan voorstel, besig is om in ons wêreld te verskyn. Om God se grootheid elke Sondag in die kerk te besing en dit in woorde te bely bring ons by ‘n gevoel van sekuriteit uit. Maar dit behoort ons ook onrustig te maak om te besef God is groter as ons verwagtinge, teologië en ons eie beoordelings van reg of verkeerd. Hierdie gedagte het Saulus diep getref en hom by  ‘n bekeringsmoment in sy geloof uitgebring! Is ons dalk besig om in ons eie ywer vir Jesus te vervolg?

Gebed

Hier is ons Here, mense wat gereeld met  ons hartseer, vrese en kommer na U toe kom vir uitkoms. Mense wat ons eie hoop en drome met U deel. Hier is ons Here, mense wat druk besig is met werk en studie en maklik meegevoer kan word deur dit wat oppervlakkig is. Hier is ons Here, mense wat godsdienstig is en meedoen aan die  onreg en boosheid waarteen ons so gekant is. Ons bid: Verlos ons van die boosheid wat U Gees ons help om in onsself te sien. Laat ons vrede vind in U wat ons lei tot vergifnis en versoening. Amen.