Psalm 90:1-2. God van ewigheid tot ewigheid
Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag na geslag. Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. (vers 16). Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders.
Ons menslike geskiedenis is ‘n konstante herhaling van dieselfde foute. Ons geheue is kort.
Ons maak foute en leer daaruit en pas ons lewens daarvolgens aan, maar die menslike geskiedenis is ‘n konstante herhaling van dieselfde foute. Ons vergeet gou weer. Die mislukkings, lyding en lesse van ‘n vorige generasie gaan gou by ons verby. In dit alles verskyn God van geslag tot geslag met dieselfde geduld en genade en begin keer op keer weer van voor af met ons. Toe die ballinge langs die riviere van Babel gesit het en met spyt oor hulle verlies nagedink het, lees ons in Klaagliedere 3 dat dié gebed by hulle opgekom het (Klaagliedere 3:22-23): deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. Is jy moedeloos oor konstante herhaling van oorlog, misdaad en onreg waarvan ons elke dag in die nuusblaaie lees? Dit is in so ‘n wêreld dat God gekies het om Immanuel (God by ons) te wees. Mag God se liefde en omgee vandag, soos elke dag vir jou nuut wees en dit jou in staat stel om te midde van die chaos om jou, met betekenis te lewe.
Gebed
Heilige God, Skepper van alles wat bestaan, U is gedurig besig om die gesig van hierdie wêreld waarin ons leef te verander; in Jesus Christus U ook vir ons, u kinders. Laat daarom u kreatiewe energie vandag in my lewe invloei om dit te transformeer tot iets betekenivol wat vandag ‘n verskil kan maak. Here, gee my vandag, soos elke nuwe dag ‘n begrip dat wat ek vandag doen, dink en sê saakmaak. Amen.