https://youtu.be/BA3l9TRxP24
15 Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie.
Moses is besig om die Israeliete deur die woestyn te lei, op pad na die beloofde land. Op hierdie reis soek Moses versekering van God se teenwoordigheid terwyl hy die Israeliete lei. Hoe mooi is Moses se versoek nie? As die Here nie saamgaan nie, moet ons ook nie gaan nie.
Soos die pelgrims in Psalm 121, het ons ook die versekering van God se teenwoordigheid in ons lewensreis nodig. Dink vandag na oor hoe jy God se teenwoordigheid in verskillende seisoene van jou lewe ervaar het. Was daar tye wanneer jy gevoel het dat God ver was? Onthou, soos Psalm 121 ons herinner, God is nie vêr van ons af nie, maar innig betrokke in ons lewens.
Oefen vandag om bewus te wees van God se teenwoordigheid in die gewone oomblikke – jou asem, jou hartklop, die skoonheid rondom jou.
Hoe sal dit in jou lewe lyk as jy Moses se gebed sou bid: “Here, as u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet my U my nie van hier laat optrek nie” of met ander woorde: “Here, as u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet ek nie besig wees hiermee nie”.
Hemelse Vader, dankie dat U ons nooit alleen laat nie. Help ons om bewus te wees van U teenwoordigheid, selfs in die gewone tye van ons lewens. Mag ons altyd bewus wees dat U naby ons is. Amen.