Deur: Ds. Johan Visser
Leraars word gereeld deur lede van die buurtwag of sekuriteitsmaatskappye gevra waarom daar so baie rooi kruise by huise in die omliggende woonbuurte is? Die vraag bied dan aan ons die geleentheid om die mooi getuienis te lewer rakende die oorsprong en die dieper betekenis van dié gemeenteprojek. Elke huis het sy kruis . . . vir ons verteenwoordig dit nie net ’n spreekwoordelike term nie, maar vir elke lidmaat van Stellenberg-gemeente is die simbool van die kruis ’n belydenis van ons geloof dat Christus, ons Verlosser, leef!
Volgende Woensdag 5 Maart is vir ons as gelowiges ook nie net ’n gewone Woensdag nie – dit is Aswoensdag. Op Aswoensdag word ons uitgenooi om die reis van die Lydenstyd te begin – dit is ’n tyd van selfondersoek, gebed en hernude toewyding aan God. Aswoenddag wat die 40 dae voor Paasfees inlei, herinner ons aan ons sterflikheid en afhanklikheid van God se genade.
Die naam Aswoensdag het ontstaan na aanleiding van die jarelange gebruik waar ’n kruis met as op kerkgangers se voorkoppe aangebring is as ‘n simbool van berou en vernuwing. Dit is ‘n uitnodiging om ons harte opnuut tot God te wend en Hom toe te laat om ons te vorm en te lei. Dit herinner ons aan die woorde: “Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15) en “Stof is jy, en tot stof sal weer stof word” (Genesis 3:19).
Lydenstyd bied ons ‘n geleentheid om nader aan Christus te groei sodat ons ons geestelik kan voorberei op Paasfees en nadink oor sy lyding en opoffering. Dit is ‘n periode van geestelike verdieping, waartydens ons ons kan voorberei vir die blye fees van die Opstanding.
Ek wil jou uitnooi om ook in jou eie lewe hierdie Aswoensdag die beginpunt van ’n seënryke reis na Paasfees te maak. Sluit Woensdagaand om 18:30 by ons in die kerk aan en ontvang die seën van hierdie heilige seisoen. Die geleentheid gaan uit twee aanbiedings bestaan. Die eerste helfte is ’n ervaringsgeleentheid wat ook kindervriendelik sal wees. Jy is welkom om na die eerste helfte te verdaag, of om verder saam met dr. Carel van Wyk en die midweekgroep te reflekteer oor die ervaring van die aand en die dieper betekenis van Lydenstyd. Aswoensdag word ook opgevolg met Nagmaalbyeenkomste by die volgende Sondag se eredienste.
Ons wil vra dat jy in hierdie Lydenstyd jou ou rooi kruis weer ’n lagie nuwe verf gee, of self ’n kruis maak, dit aan jou voordeur of grensmuur sit en daardeur getuig – dis Lydenstyd! Daar sal op Sondag 9 Maart ’n beperkte aantal rooi kruise beskikbaar wees vir diegene wat nog nie ’n kruis het nie.
Stap bewustelik in die volgende paar weke van Lydenstyd saam met ons deur Jesus se lyding en laat toe dat die gebeure rakende sy lyding en sterwe jou daaglikse roetine, denke en emosies aanraak. Oor die eeue heen het gelowiges in hierdie tyd gevas as ’n voortdurende herinnering aan Christus se lyding. Oorweeg dit om jou ook van ’n luuksheid of lekkerny te ontneem, sodat jy meer bewustelik met Jesus se lyding kan identifiseer en dit met jou eie en ander se lyding laat resoneer.
Mag hierdie Lydenstyd ‘n tyd van vernuwing en verdieping op jou geloofspad wees.