https://youtu.be/w09kT2OyZ58
Hierna is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei om deur die Duiwel versoek te word.
Die woestyn is nie ’n plek wat iemand sommer vir hulleself kies nie. Die woestyn is ’n gestroopte plek, ʼn leë plek, ʼn eensame plek en ʼn wilde plek. Die woestyn is ʼn plek van skaarste en ʼn plek waar mense verdwaal.
Mense kies nie sommer die woestyn nie. Daar is mense wat kies om hulself so af te sonder, dikwels vanuit ʼn geestelike oortuiging, maar vir die meeste van ons is die woestyn eerder iets wat met ʼn mens gebeur – of as jy dit kies, is dit ʼn noodsaaklike deurgang na iets anders. Heel dikwels, bevind ’n mens jouself in ’n woestyn – binne ‘n tyd van gestrooptheid.
Dit is die kliniese gestrooptheid van ʼn hospitaalbed of -wagkamer.
Die eensame landskap van ʼn kroniese siekte.
Die verlorenheid na ʼn groot verlies – die dood van ʼn geliefde, ʼn egskeiding, of ʼn afdanking.
Dit is die kleurlose, geurlose grys van depressie.
Dit is die kommer en geknaag van ʼn tekort, van nie genoeg geld nie, nie genoeg tyd nie, nie genoeg energie nie, nie genoeg geloof nie, of nie genoeg kennis nie.
Dit is die sinkende gevoel van iemand wat ʼn nuwe lewensfase betree en besef: ek ken nie die plek nie, niemand het my hierop voorberei nie, ek weet nie hoe vorentoe nie.
Dit is die moedeloosheid van die pelgrim, verlangend op soek na God se beloftes wat bly belowe maar nooit soos ʼn stad oor die horison wil verskyn nie.
Dalk bevind jy jou nou in die gestroopdheid van ’n woestynervaring. Dit is nie ’n aangename plek om te wees nie. Tog kan die Here hierdie woestynervaring met sy gestrooptheid gebruik om jou te weer leer van sy genade in moeilike tye. Sy nabyheid as jy juis alleen deur die vallei van doodskaduwee gaan. Net soos Jesus sy krag van God ontvang het, terwyl Hy in die woestyn was. Bid ook dat die Here jou die krag sal gee om deur jou woestydtyd te gaan.
Here, hierdie is vir my ‘n woestyntyd en ek sukkel om u teenwoordigheid te ervaar. Mag ek weer bewus word van U hier by my. Dra my deur hierdie tyd. Amen