Gebed | Ons gesels met Jesus oor sy lyding

Vind vrede in ’n wêreld van konflik: Lesse uit Jerusalem
In-Christus-konferensie

In hierdie Lydenstyd gesels ons telkens met Jesus oor een van sy kruiswoorde. Vandeesweek, die derde kruiswoord:

“By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.”
(Johannes 19:25-27 2020-vertaling)

Woorde uit die wêreld om ons:

ʼn Paar dae gelede het die New York Times ʼn potgooi gepubliseer van ʼn onderhoud wat met ʼn bekende kliniese sielkundige in die VSA gevoer is. Jy kan dit vind deur te soek na The Interview New York Times op die Spotify-toepassing of webwerf. Soek vir die episode getiteld ‘The Interview: Dr. Lindsay Gibson on What We Owe Our ‘Emotionally Immature Parents.

Kortliks dui dr. Gibson se perspektief daarop dat hoewel medelye vir jou ouers natuurlik is, dit van kardinale belang is om te raak te sien as hierdie deernis ‘n eenrigtingstraat word. ʼn Onvolwasse, selfgesentreerde ouer kan ʼn volwasse kind van alle energie dreineer. Terwille van so ʼn kind se eie geestesgondheid moet hy of sy duidelike grense stel in die verhouding met die ouer. En as dit nodig is, so glo dr. Gibson, moet die kind selfs alle kontak met die ouer opskort.

Woorde van die kerk aan ons

Lied 396:1 – 4

Aanskou die Heiland, sien die kruis –
die Hemelvors, verag, verguis.
Vir my het Hy Hom daar laat hang.
Hy leef, Hy sterf – in my belang.

Hy hang, van God en mens verlaat,
Hy seën waar ander spot en haat.
Hy bly verdra, vergeef, versoen –
in só ’n redder sal ek roem.

Vir al my skuld het Hy betaal;
vir my in helle-angs gedaal.
Sy kruis, sy liefde onbegrens,
ontsluit in my ’n nuwe mens.

Hom kan ek nou met vreugde dien
in ruimte deur sy kruis voorsien.
’n Liefde so volmaak en vry
eis alles, alles ook van my.

ʼn Woord van God tot ons:

  • Die ankerteks vir die week se gebed is Lukas 23:32–43 en is reeds aan die begin, net onder die opskrif aangehaal.
  • Ander tekste wat die gebed hieronder beïnvloed het:
    • Efesiërs 6:1-4 (2020-vertaling)

Kinders, wees in die Here aan julle ouers gehoorsaam, want dit is hoe dit hoort. “Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met ‘n belofte, “sodat dit met jou goed mag gaan, en jy ‘n lang lewe op aarde sal hê.”

    • Lukas 2:34-36 (2020-vertaling)

Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mensel in Israel, as ‘n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”

    • Romeine 8:7–9 (1983 Vertaling)
      Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.

ʼn Gesprek met Christus oor die deernisvolle wyse waarop Hy vir sy ma se versorging voorsiening gemaak het.

Ons deernisvolle Here, hoe meer ons na U kyk;
oor U dink; ons met U vergelyk –
hoe beter verstaan ons dat U vir ons móés sterf,
dat U aan die krúis ons heil moes verwerf.
U was mens soos God bedoel het dat óns moet wees.
O Hemel tog, ons skiet so ver te kort!
Ons verdien nie die lewe nie –
U verdien dit vir ons, en géé dit aan ons!

Ons mislukking was al sigbaar toe u Vader, ons Vader,
deur Moses ʼn wet moes maak en beveel dat ons ons ouers moet eer!
En God moes boonop ʼn belofte bysit om ons om te koop om dit tog maar te doen.
Ons ouers was God se medewerkers in ons skepping;
húlle moes ons grootmaak;
húlle moes vir ons sorg –
en hulle hét, goed of sleg, maar die meeste van hulle hét!
Here Jesus, as ons soos U was,
sou dit vir ons die natuurlikste ding op aarde wees,
om hulle te eer, ook na hulle om te sien,
met hulle gebreke geduld te hê.
Maar ons is nie soos U nie, ons natuur is verdorwe en sondig.
As u Heilige Gees ons nie van binne voortdurend vernuwe nie,
kan ons nie soos U wees nie.

O Heer, daar is die van ons wat dit werklik moeilik
gehad het onder afbrekende ouers. Daar is die
wat selfs as volwassenes ly onder ouers se selfsug,
narsisme, onvolwassenheid of blote gemeenheid – help
hulle tog. Help veral kindertjies wat nog klein is om onder sulke
omstandighede normaal op te groei. Help ons almal
om deur seerkry heen te groei;
om respekvol grense te stel wanneer dit nodig is;
om te vergewe in stede van te verwerp;
om tydens pyn, nog deernis te hê;
om “ten spyte van . . .” lief te hê.

Ten spyte van u sterwenspyn het u nog met u moeder, Maria, deernis gehad.

Ons vermoed dat u hemelse Vader wat die harte ken,
die vrou onder wie se leiding U moes opgroei,
noukeurig uitgesoek het. Sy, wat self nie sondeloos
of foutloos was nie – sy moes U grootmaak
om die uitsonderlikste mens op aarde te word.
Ons eer haar vir die rol wat sy in u lewe gespeel het,
en ons eer U vir die kind wat U vir haar tot aan die einde was.
Ons kan maar net raai met hoeveel seer die swaard
deur haar siel gegaan het toe sy aan die voet van u kruis moes huil,
en hoe seer u hande, van die spykers wat deur hulle gegaan het,
was, toe U haar in Johannes se hande oorgegee het.

Here Jesus, die Heilige Gees wek deur u kruiswoord
in ons die begeerte om goeie kinders vir ons ouers
en goeie ouers vir ons kinders te wees. Laat dié wonder
tog in almal van ons se lewens gebeur
want aan U behoort die koninkryk,
en die krag en die heerlikheid,
tot in ewigheid!
Amen

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.