“In-Christus” Konferensie – ’n Lewegewende benadering tot leierskap
Op 19 en 20 Maart is ’n konferensie met die tema: In-Christus Leierskap en Spanformasie by Stellenberg aangebied. Leiers en spanne uit verskeie sfere van kerke tot die sakewêreld en die opvoedkunde, tot niewinsgewende organisasies, is uitgenooi om saam die kwessie oor wat dit beteken om leiding te neem, vanuit ’n In-Christus-oortuiging, deeglik te bespreek en te beredeneer.
Die kern van die besprekings was gegrond op Romeine 8:1: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” Dié teks het as vertrekpunt gedien vir besinning oor leierskap wat nie deur prestasie, beheer of vrees aangedryf word nie, maar deur vryheid, identiteit en verbondenheid in Christus. Sprekers soos Andriette de la Harpe, Farren Cloete, Coenie Burger, Stephan Joubert, Tom Smith, Ivor Swartz, Mynhardt van Pletzen en Nico Simpson het elkeen hul unieke insig oor wat dit beteken om in hierdie tyd met integriteit, wysheid en deernis leiding te neem, met die gehoor gedeel.
Johan Visser vertel in die video-opname hoe die behoefte aan ’n ander manier van leiding hulle gedring het om hierdie insigrykende ervaring aan te bied en om so ’n ruimte te skep waar konferensiegangers kon leer om nie net strategiese of doeltreffende leiers te wees nie, maar om veral in Christus geanker te wees.
Louwtjie Louw van Kanoneiland was een van die deelnemers en deel sy ervaring van die byeenkoms.