Welkom by die Groot Lydensweek. Mag dit vir jou ‘n week van stilword, diepe besinning en kniel by die kruis wees.
Hou asseblief jou rooi kruis naby sodat jy in die week elke dag daarna kan kyk en dink wat Jesus se offer vir jou beteken.
Ek gee jou ook in die week die kans om vir ‘n paar oomblikke stil te word voor jy die dagstukkie lees. Gebruik die oomblik om regtig met God te verbind.
TEKS: Rut 1:14: Hulle het toe weer hardop gehuil. Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou.
Ons ken die verhaal van Naomi en haar man wat trek uit Bethlehem na Moab a.g.v. die droogte. Die hartseer in die verhaal is toe Naomi se man en beide haar seuns sterf. Sy besluit om weer terug te gaan na Bethlehem. Sy raai haar skoondogters, wat Moabietiese vroue was, aan om in hulle land agter te bly en Orpa bly, maar Rut het aan Naomi vas geklou.
Hierdie woord vasklou is nogal ’n interessante woord en ons gaan vir die volgende paar dae stilstaan by verskillende betekenisse van die woord. Die Hebreeuse kern vir die woord vasklou is “dabaq”. Hierdie woord beteken ‘n diepe vashou, ‘n naby wees om aan iemand te kleef.
Rut het so aan haar skoonmoeder vasgeklou en wou haar nie los nie. Sy het gesê waar Naomi gaan sal sy gaan. Wie Naomi aanbid sal sy aanbid. Naomi se God sal haar God wees. Sy wil nie van haar af weg gaan nie. Sy wil aan haar vashou. Sy wil nie terug gaan na haar ouers toe nie. Naomi was vir Rut so ‘n inspirasie en goeie voorbeeld dat sy verkies het om by haar te bly eerder as by haar eie familie. Sy was bereid om alles wat bekend is op te gee en saam met Naomi na ‘n nuwe land te reis. Sy wou Naomi se voorbeeld volg.
Dit roep ons om vanoggend myself af te vra. Is ek so ‘n goeie voorbeeld vir ander dat hulle aan my wil vasklou. Dat hulle my wil volg. Dat my voorbeeld vir hulle ‘n inspirasie is? Sou mense aan jou dink as ‘n goeie afbeelding van Jesus Chritus?
Here,
maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar oortredings is, vergifnis,
waar daar twyfel is, geloof,
waar daar wanhoop is, hoop.
waar daar duisternis is, lig,
waar daar droefheid is, vreugde.
O, Heilige Meester, gee dat ek,
in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos;
om begrip te soek, andere sal verstaan;
om liefde te soek, andere sal bemin.
Want dit is deur te gee, dat ek ontvang;
deur te vergewe, dat ek vergewe word.
En dit is deur te strewe vir ander,
dat ek die werklik lewe.
(Franciskus van Assissi) AMEN