Dit is vandag Goeie Vrydag en ek wil vandag ‘n gebed met jou deel. Mag dit ‘n dag wees waar jy opnuut weer vasklou aan die groot verlossingsdaad van Jesus Christus.
U het voor Pilatus gestaan, ter dood veroordeel, terwyl u Woord verwerp en u onskuld verag is.
Bewaar ons daarvan om u Woord wat vol waarheid en heil is, te verwerp.
U het u kruis gedra, uit liefde vir ons en vir die ganse mensdom.
Help ons om ons kruis te dra, uit liefde vir U en vir ons medemens.
Die gewig van u kruis was die las van ons sonde wat ons laat struikel en val.
In ons swakheid kom ons na U toe vir krag.
Al het U gely, het U steeds uitgereik en u moeder versorg.
Gee dat die kruis wat ons dra, ons nie sal verhinder om na die mense rondom ons om te sien nie.
Toe U geworstel het om u kruis te dra, het hulle ’n verbyganger gedwing om dit te dra.
Maak ons gewillig om soos Simon die laste van hulle wat swaarkry, te dra.
Die las van sonde het swaar op U gerus terwyl U op die kruisweg voortgestrompel het.
Vergewe, Here, die sonde wat ons laat struikel en val.
Die volle las van ons sonde het U verbrysel.
Laat ons nie in ons sonde aan onsself oor nie, maar bewerk in ons berou en geloof.
Ontbloot en bespot, het U die vernedering verduur sonder om daaroor te kla.
Maak ons nederig in dit wat ons doen en daagliks ervaar.
Vasgespyker aan die kruis, het U u plek ingeneem tussen die veroordeeldes.
Wees ook so tussen ons as sondaars en bring ons deur geloof saam met U in die paradys.
Toe U offer volbring is, het U u lewe in die hande van die Vader oorgegee.
Hou ons naby aan u kruis en aan u dood, nou en in die uur van ons dood.
In die graf is U neergelê, maar uit die graf het U opgestaan.
Wees die Heer van die opstanding vir ons en vir almal wat aan U behoort.
Here Jesus, ter wille van u kruis en lyding, is ons vrygespreek deur geloof, skoongewas van ons sonde, en herstel in ons verhouding met God. Ons dank U vir u kruis en vir die diepte van u liefde vir ons. Help ons om ons kruis in die wêreld te dra en om U te volg totdat U ons saam met U in die koninkryk van God laat ingaan, waar U saam met die Vader en die Heilige Gees regeer, een God, nou en vir ewig.
Amen