Dagstuk | Saterdag 19 April 2025

Dagstuk | Donderdag 10 April 2025
Dagstuk | Vrydag 11 April 2025

TEKSGEDEELTE

Filipense 2:6 5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: 6Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,

BOODSKAP

Jesus het Homself verneder deur die laagste tipe status aan te neem, naamlik ’n slaaf. Hy kom nie aarde toe as ’n prins, of ’n koning nie. Die rooi tapyt word nie vir Jesus uitgerol nie, Hy ry maar op ’n donkie en word soos ’n slaaf behandel. Erger nog, Hy word verneder en soos ’n sleg misdadiger aan ’n kruis gehang. Die Here, hierdie Koning het ‘n slaaf geword.

Kom ons lees dit weer: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse , nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word”. Waarop kom dit neer – Jesus as die Seun van God, dit is sy status – Hy wat in die gestalte van God was, het nie vasgeklou aan hierdie status nie, maar was bereid om dit vrywilliglik af te lê. Hy was bereid om Homself so prys te gee dat hy die status van ‘n slaaf aangeneem het en aan mense gelyk geword het.

Jesus lê sy belangrikheid af en word een met ons, gelyk met ons. En selfs meer as dit – Hy word ‘n dienskneg. Hy neem die status van ‘n slaaf aan. Die 1933 vertaling sê in vers 7 dat Jesus Homself ontledig het deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan mense gelyk te word. The Good News New Testament stel dit so: of his own free will he gave up all he had.

Hy was bereid om die hemel te verlaat en as mensekind gebore te word in ‘n stal in Bethlehem. Hoewel Christus God was, het Hy as mens op aarde kom leef, hy het op die stofpaaie van Palestina geloop, dikwels nie ‘n plek gehad het om sy kop neer te lê nie. Hoewel Christus God was, was Hy bereid om sy lewe vir ons te gee – te sterf aan die kruis op Golgota.

Ons het die week gewandel met die tema van “vasklou”. Jesus het juis nie vasgeklou aan Sy status nie. Nee Hy het neergedaal om ons te kom vashou vir ewig. Met sy uitgestrekte hande aan die kruis nooi Hy ons om aan Hom vir ewig vas te hou.

GEBED

Here, dankie vir die uitnodiging om aan U vas te hou. Ek neem dit weer opnuut aan.

AMEN