Ons gaan die week stilstaan by een van die mooiste lofredes in die Bybel. Ek is seker daarvan ons almal ken dit baie goed. Dit is Romeine 11:33-36. Kom ons lees dit saam:
TEKS: ROMEINE 11:33-36
33O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë!
34“Wie ken die bedoeling van die Here?
Wie gee Hom raad?
35Wie bewys Hom ‘n guns,
sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.
BOODSKAP
Ons staan vandag stil by vers 33: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
Paulus kom sluit nou die laaste slot oop van Romeine 9 tot 11 met ‘n stukkie poësie in hierdie verse 33 tot 36. Hy het ’n hoogtepunt bereik in sy betoog en kom tot gevolgtrekking dat ons as mense, die misterie van God se raadsplan nooit ten volle sal verstaan nie. Al wat ons kan doen is om saam met Paulus, ’n loflied oor God te sing, te sing oor die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God” wat bodemloos, onuitputlik, en onpeilbaar is; ‘n loflied te sing van die “rykdom” van God wat eie is aan die volheid van Sy heilswerke; te sing oor die “wysheid” van God want alles wat Hy doen, is doelmatig, sinvol en onverbeterlik, in die besonder Sy heilsplan met die uitverkiesing; te sing van God se volmaakte “kennis” van alles wat is en wat was en wat kom.
In die vier verse van Rom 11:33-36 lees ons elf verwysings na God. Die skrywer staan in verwondering, besef ons as mens se verganklikheid en beperktheid en verheerlik en aanbid vir God. Ons lees in Rom 11:33 dat die Here se rykdom, wysheid en kennis onmeetlik is. Eugene Peterson vertaal in “The Message” Rom 11:33 soos volg: “Its way over our heads. We’ll never figure it out.” Ons begrip is klein en ons insig beperk. God het volkome insig in alles. Die woord “onnaspeurlik” wat Paulus in Rom 11:33 gebruik is ‘n woord wat vir spoorsny gebruik word. Hierdeur wil hy sê dat God voetspore nalaat wat ons nie altyd kan volg nie. Ons kan nie Sy denkproses of die aksies wat Hy uitoefen, verstaan nie.
Al verstaan ons nie die misterie van God se raadsplan ten volle nie, behoort ons nie nou terug te sit, hande in die lug opgooi en moedeloos ons lot bekla nie. Ons kan God vertrou dat Sy wee onnaspeurlik is. Hy weet wat is die beste en hoe alles op die ou einde moet uitwerk.
GEBED:
O Gees van Waarheid, dankie dat U elke dag ‘n werklikheid van my lewe is. Dankie dat U in beheer van my lewe staan sodat ek tot U eer kan leef. Dankie dat U ‘n lewende geloof in my bewerkstellig . Amen.