Dagstuk | Saterdag 7 Junie 2025

Dagstuk | Vrydag 6 Junie 2025

Efesiërs 4:3

en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede – 4een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is:

 

Refleksie:
Dit is ironies dat daar vandag dikwels konflik is oor hoe verskillende tradisies met mekaar verskil oor die Gees. Die eerste groot kerkskeuring meer as ’n duisend jaar terug, het gegaan oor die Heilige Gees. Efesiërs herinner ons dat die Gees ons almal saambind tot ’n eenheid. Almal wat die Gees het, is een in Christus. Tog soek ons maniere om onsself van mekaar los te maak.

Daarom word ons opgeroep om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar. Om onsself te herinner dat ons almal deel is van een liggaam. Dit beteken nie almal is eenders nie. Die kerk is ’n diverse plek, maar wat almal tot een hoop geroep is. Mag ons leer om nie vas te kyk in ons verskille nie, maar die een hoop voor oë te hou, sodat ons elkeen saamwerk om die Koninkryk van God sigbaar te maak.

Dit is nie eenvoudig of maklik nie, maar dit is waartoe ons deur die Gees geroep word. Mag ons die eenheid wat deur die Gees bewerk is, bewaar.

Gebed

Here, help ons om brûe te bou eerder as mure, om langer tafels te bou eerder as heinings. Help ons om die verskille tussen ons toe te vou in U liefde en lei ons deur die Gees na groter eenheid, wat reeds deur bewerk is.

 

Amen.