Ontmoet vir Jacques Nel – ons nuwe finansiële bestuurder

Hemelvaart

Jacques Nel het op 2 Junie in dié tuig geklim as die gemeente se finansiële bestuurder.  Jacques se wortels lê in Murraysburg in die Karoo waar hy begin skoolgaan het, maar hy voltooi sy skooljare in Bellville aan Laerskool Bellpark en Hoërskool Bellville.

Jacques het sommer net na skool, op 21-jarige ouderdom, sy vrou, Cindy, ontmoet.  Cindy was in daardie stadium nog op skool met die gevolg dat die twee eers na ’n lang verhouding van ag jaar, getroud is.  Cindy is ’n mediese suster en werk reeds etlike jare by ’n fertiliteitskliniek in die stad. Jacques en Cindy het ’n agjarige dogter, Emily-Grace.  Emily-Grace volg in haar ouers se voetspore en is tans ’n graad 2-leerder aan Laerskool Bellpark.  “Die Nels woon in Oakdale, reg oorkant Laerskool Bellpark se hoofhek,” sê Jacques.  “Ek stap net oor die straat om my dogtertjie by die skool te besorg.”  Jacques is ook lid van die beheerligggaam van Laerskool Bellpark.

Na sy studie het Jacques by Tomson Motors, ’n motorwerkswinkel in Stellenbosch begin werk waar hy 24 jaar gewerk het.  Jacques vertel dat hy die afgelope paar jaar na ’n loopbaanverandering begin hunker het en nadat die eienaars van die besigheid boonop onlangs verwissel het, het die dringendheid vir verandering groter geword.  Hy sê dat hy toe ook ernstig begin bid het vir ’n rigtingwyser rakende sy loopbaan.

“Een van my en Cindy se vriendinne is ’n leraar by ’n NG gemeente in Somerset-Wes.  Sy het vir Cindy laat weet van die vakature by Stellenberg-gemeente en dit het vir my gevoel asof die geleentheid met ’n rede onder my aandag gebring is.  Ek het aansoek gedoen en die res is geskiedenis.

“Nadat ons gesin ’n groot verlies beleef het, het my verhouding met die Here die afgelope tien jaar verdiep en ek het opnuut bewus geraak van sy teenwoordigheid, voorsiening en genade in my lewe,”  sê Jacques.  “Ek glo die Here het dié werksgeleentheid aan my  voorsien en in ruil daarvoor wil ek my werk na die beste van my vermoë doen.  Ek wil graag vanuit die genade wat ek beleef, iets terugploeg.  Ek bid dat die Here jaarliks vir my ’n woord of skrifgedeelte gee wat my fokus vir die jaar kan wees en hierdie jaar het ek die woord ‘groei’ herhaaldelik van Hom ontvang.  Ek glo dan ook dat hierdie nuwe werksgeleentheid vir my geleentheid tot groei en ontwikkeling sal bied.”

Jacques beskryf homself as ’n familievaste persoon en spandeer graag tyd saam met sy gesin en uitgebreide familie.  Sy ouer broer wat naby hom woon, het ook ’n dogtertjie en die twee niggies is groot maats.  As gesin is hulle lief vir buitelugaktiwiteite.  Hulle kampeer graag en uitstappies na die see is ’n groot gunsteling.  Jacques speel ook gholf wanneer tyd dit toelaat.

Hartlik welkom, Jacques.  Ons vertrou dat jou dienstydperk in die gemeente vir jou van groot seën sal wees.