’n Gebed vir wêreldleiers

Preekreeks: Derde kwartaal

Deur: Ds. Schalk van Wyk

“Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ‘n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.

Want daar is een God,
en een Middelaar tussen God en die mense:
die mens Christus Jesus,
wat Homself as losprys vir almal gegee het,
tot getuienis op die bestemde tyd.”
(1 Timotheus 2:1-6)

Woorde van die wêreld om ons:

Die 51ste G7-leiersberaad is van 15 tot 17 Junie 2025 in Kananaskis, Alberta, Kanada, gehou.

Die G7 bestaan uit die leiers van die wêreld se sewe grootste en mees gevorderde ekonomieë – Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State. Hulle fokus hoofsaaklik op globale ekonomiese stabiliteit, sekuriteit en klimaatverandering.

Hulle mag is so groot dat die besluite wat in hulle sopkombuis bekook is, wêreldwyd die alledaagse lewe van kwesbare mense ten goede of ten kwade sal kom. Immers, al verteenwoordig hulle net 10% van die wêreld se bevolking, besit hulle gesamentlik 60% van die wêreld se geld.

Boonop leef ons in ʼn tyd van oorloë en magshongere leierlike besetenheid. Maklik-maklik, in ʼn oogwenk, kan iemand in ʼn magsposisie ʼn domastrante besluit neem wat die wêreld in diepe ellende dompel. As daar ooit ʼn tyd was om te bid, is dit nou!

Woorde van God tot ons:

  • Psalm 72:11-14

Al die konings sal diep
voor hom buig,
al die nasies sal hom dien;
want hy sal behoeftiges
wat om hulp roep, uitred,
ook magteloses en mense

wat nie helpers het nie.
Hy sal deernis hê met hulpeloses
en behoeftiges;
die lewens van behoeftiges sal hy bevry.
Van onderdrukking en geweld
sal hy hulle lewe vrykoop.
Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.

Nagedink oor hiérdie God se woorde

In Psalm 72 beskryf Salomo ʼn koning wat volgens die wil van God regeer. En só kry ons ʼn kykie in God se hart. Dit is die hart van Jesus se hemelse Vader en dus die hart van Koning Jesus. Salomo sê, ʼn koning/regering wat volgens God se hart optree, het deernis met die onderste laag van die samelewing. Gevolglik, omdat Jesus presies is soos God, God self is – saam met die Vader en Heilige Gees één God is – verstaan ons hoekom Jesus so sorgsaam beweeg het tussen mense wat swaarkry. Koning Jesus is ʼn koning na God se hart, dít wys Salomo se psalm vir ons.

Elkeen wat ʼn magsposisie beklee en besluite kan neem wat ander lewens raak, élke so ʼn mens, moet verstaan hoe God oor rykdom en mag dink. God maak ryk en magtig met een doel voor oë – Hy wil hê dat ons sy medewerkers sal wees om vir diegene wat swaarky in die samelewing, te sorg – dít verstaan die ryk en magtige koning Salomo in Psalm 72.

Die konings, die maghebbers (= dié wat die mag het) se opdrag is per slot van rekening om met God saam te werk sodat God se koninkryk kan kom. En God se koninkryk kom dáár waar God se wil gedoen word op aarde soos in die hemel. ʼn Koning (regering) moet volgens God se wil; God se reëls; God se hart; ʼn koning of regering wees.

Ons weet dat Jesus so ʼn Koning is. Daar is oorvloedige getuienis dat Salomo self (en geen ander koning of regering ooit) hierdie mas opgekom het nie. Daarvoor sit die sonde te diep in die hart van elke mens. Die kwesbares word van toe tot nou steeds gekwes; die weerloses word weer en weer verwaarloos en verdruk. Daarom is Psalm 72, nie net ʼn prediking oor God se reëls vir maguitoefening nie, maar ook ʼn rou roepstem uit die Ou Testament na die koms van die Messias, die Christus – God se gesalfde, die Koning na God se hart. Nét die mens Jesus, wat self ook God is, was in staat om God se koninkryk met innige menslikheid hier op aarde te kom vestig. Hý roep ons om sy getuies, sy medewerkers, te wees.

Ons kan dus nie Jesus as koning bely as ons nie ook daarvoor pleit dat regerings behuising, mediese sorg, onderwys en voedselhulp aan die wat swaarkry, voorsien nie. Ons kan nie Jesus as koning bely as ons nie ook daarvoor pleit dat vlugtelinge menslik behandel word nie.

Daarom moet ons bid dat regerings sal verstaan hoe God dink oor die arm, magtelose en vlugtende mense van hierdie wêreld; hoe belangrik sorgende medemenslikheid jeens hulle vir God is.

Ons mag van mekaar verskil oor hóé hierdie dinge in ons samelewing gedoen moet word, maar ons wat Jesus as Koning bely, mag nooit van mekaar daaroor verskil dát dit gedoen moet word nie. Ons mag nooit nalaat om alle regerings en politici se beleid en die uitvoering daarvan te meet aan wat God wil hê nie. Ons moet ook ons protes laat hoor as ministers bv. vir die geringste bakatel oorsee vlieg terwyl arm mense in krotte woon. Ons mag nie swyg nie, maar ons moet tog mooi dink vóór ons praat. Ons praat immers baie politiek, maar praat ons soos Psalm 72 daaroor?

Onthou tog dit: Hoe ons oor die politiek en die wêreldnuus praat, sal afhang daarvan of ons besef dat dit ʼn diep godsdienstige kwessie is.

Met “godsdienstig” bedoel ek nie dat jy op jou knieë staan en mooi woordjies prewel of kerk toe gaan om met arms omhoog lofliedere te sing nie. Lofliedere is nie sonder meer vir God mooi nie. God kan maklik sy ore toedruk as ons begin sing, omdat dit vir God net ʼn geraas is, waarsku die profeet Amos (Amos 5:21-23). En ons lofliedere word ʼn geraas wanneer ons mond kwesbare mense kwes; wanneer die hande wat ons ophef, nie ook dienende hande in die samelewing is nie. Godsdiens beteken tog letterlik om God te dien. Godsdiens is om in die diens te staan van die God vir wie die armes, die weerloses, die weduwees, die weeskinders – ja ook die vlugtelinge – belangrik is (Jesus self was immers as kindjie ‘n vlugteling vir die wreedheid van Herodus).

Woorde van die kerk tot ons

  • Lied 207:4

Maak ons, O Heer, u getroue getuies
dat ons met vreugde dit oral vertel:
Christus, oorwinnaar oor dood en oor chaos,
Hy ken ons nood, Hy kom red en herstel.
Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord
en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

Ons Woorde tot die Here

Koning Jesus, Barmhartige Here,
U het vertel van ʼn Samaritaan
wat in plaas van blindweg verder te gaan
wyn en olie gegiet het op iemand se sere.

Nederige Jesus, sorgsame Koning,
vir blindes, bedelaars, siekes en
sondaars het U ʼn kleim afgepen
in u ryk  – in God se ewige woning.

Here hoor ons pleit dat leiers deur u Gees
in hul kombuis ʼn hoendersop sal kook
ʼn doepa sal brou wat vir hulle en ook
ons chaotiese wêreld tot genesing sal wees!

Want aan U behoort die koninkryk
en die krag
en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen

 

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.