Dagstuk | Donderdag 26 Junie 2025

Dagstuk | Woensdag 25 Junie 2025
Dagstuk | Vrydag 27 Junie 2025

Psalm 34:2-4

Ek sal die Here altyd weer prys,

sy lof sal altyd op my lippe wees.

3Ek sal die roem van die Here sing;

dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.

4Sing saam met my oor die grootheid van die Here

en laat ons saam sy Naam prys

IS ONS DANKBAAR GENOEG?

Daar is ʼn ou Halleluja-liedjie wat sê, tel jou seëninge, tel hul een vir een! Miskien is dit wat ek en jy weer ‘n slag moet doen. Gaan gereeld deur die bateregister van jou lewe, dit sal ons help om weer ‘n dankbare lewe te lei. Besef wat die Here alles vir jou uit genade skenk en dank Hom daarvoor.

Ek lees eendag die volgende stelling: “Wat as jy vanoggend wakker geword het net met die dinge waarvoor jy gister dankie gese het?” Aanvaar ons nie maar dinge net as vanselfsprekend nie? Die Here moet dit maar net gee en gee en gee. En dan het ek nog die arrogansie om te kla as Hy nie genoeg na my sin gee nie. Is ek en jy werklik dankbaar en sê ons vir die Here dankie genoeg vir ons gesondheid, ons vryheid, ons familie, ons werk, ons inkomste, ons ledemate ens. ?  Dalk het ons ook in ‘n verbruikerskultuur verval. Ons weet waar om te vra en te kry, maar ons weet nie hoe om dankie te sê nie.

Dankbaarheid is een van die lewe se loutere vreugdes: iets om elke dag te beoefen. Dit is so belangrik dat ons selfs ons kinders, sodra hulle iets in hulle handjies kan vashou, leer om dankie te sê. Waardering vir al ons seëninge help met die ontwikkeling van ’n gesonde verhouding waarmee ons die lewens van ander positief kan aanraak. Wanneer dankbaarheid afwesig is, gebeur die teenoorgestelde. Ons aanvaar dinge as vanselfsprekend wat later in ’n houding van aanspraak en reg ontwikkel.

Om dankie te sê is ’n eenvoudige manier om die goedheid en voorsiening vir alles wat ons van ons Hemelse Vader ontvang, te vier. Of Jesus saam met sy dissipels geët het, of die skare gevoed het, Hy het groot waarde hieraan geheg.

GEBED

Ons Vader, dit is so goed dat ons U deur Jesus Christus kan dank vir al u goedheid en genade. Skenk aan ons genoeg geloof om U in alle omstandighede te kan dank en dit in dankbaarheid te kan vier.  Amen