Psalm 92:2-3,5 Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou, … U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U gedoen het.
Dankbaarheid is nie net ‘n emosie nie, maar moet oorgaan tot aksie. Dankbaarheid inspireer my om my geloof uit te leef, om saam met ander gelowiges Sondae God te loof en te dank vir Sy genade, lief te wees vir God se kinders, iets van die baie wat ek ontvang, terug te gee met my tiende, en elke dag met vreugde te leef!
Uit die Bybel blyk dit dat ’n mens dit veral op die volgende maniere doen: – deur dit in gebede vir Hom te sê; – deur dit in liedere vir Hom te sing; – deur vir Hom offers te gee – offers van jou goed en van jou geld en van jou tyd en van jou kragte; – en deur ’n lewe van gehoorsaamheid aan Hom.
In ons gebede kan ons die Here dank vir Sy goedheid en guns. So dikwels is ons dankbaarheid ‘n flou, halfhartige besigheid, en as ons vir God dankie sê, dan is dit maar net ‘n meganiese ritueel terwyl ons al lankal aan ander dinge dink. Dink gou vir ‘n oomblik aan jou huidige gebedslewe. Hoeveel se ons dankie en eer ons die Here teenoor hoeveel wat ons vra. Die skaal hang baie laag na die vra kan toe. Ons gebede is so ‘n gulde geleentheid om die Here werklik te dank vir al Sy genade.
Ps 147:7 “Sing vir die Here ’n danklied, sing tot eer van ons God met begeleiding van die lier.” Is die begeerte in jou hart om in die kerk te kom en die Naam van die Here uit dankbaarheid groot te maak. As ek hier kom staan, vergeet ek van mense om my ek wil met my hele hart en siel en liggaam net op die Here fokus en Hom aanbid en Hom sien, en elke woord wat ek sing wil ek bedoel. ‘n Lofsang moet waarlik uit die hart kom.
Dankbaarheid beteken natuurlik nie alleen om lofsange aan God te sing en Hom met jou hart en mond te dank nie. Dit beteken ook dat jy dit prakties moet uitleef. Die Here het jou gered van die ewige dood. aarvoor is Hy gegésel, bespot, verwerp, verloën, gekruisig. Dit was nie ‘n eenvoudige redding nie! Sal jy dan nie nog soveel meer dankbaarheid teenoor Hom betoon nie? Dit hoort net natuurlik te wees dat jy jou alles sal gee vir Hom – dat jy dinge vir Hom sal wil doen. Dit hoort tweede natuur te wees dat jy met jou ganse lewe vir Hom sal wil dankie sê. ‘n Dankbare gehoorsame lewe is die paslike reaksie op God se genade.
Ek dank U Heer uit my hart uit vir U genade. Amen