Ons gaan in hierdie week se dagstukkies nadink oor God wat liefde is en hoe sy liefde ons by vrede uitbring, ons identiteit gee, ons genees, ons vrese oorwin en ons by plekke bring om te vergewe.
Tema: Liefde breek mure af
Teks: Efesiërs 2:14. Christus is ons vrede, Hy wat die twee, Jode en nie-Jode een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.
In die tyd van Jesus en die vroeë kerk was daar sterk gevoelens tussen Jode en heidene. Daar was ‘n muur rondom die tempel met waarskuwings wat heidene buite gehou het. Die muur sou dan die skeiding maak tussen diegene wat heilig en die wat onheilig is. Die straf vir die oortreding was die dood, want God se heiligheid was vir die Jode ‘n belangrike prioriteit. Die verwysing na die muur van vyandskap in ons teks was ’n verwysing na hierdie muur in die tempel. Dink net vir ‘n oomblik aan hoe radikaal hierdie beeld is. God se heiligheid beteken nie dat hy sekere mense op ‘n afstand wil hou om sy karakter te beskerm teen mense se sondigheid nie – en in sy beoordeling maak hy nie soos ons ‘n onderskeid tussen mense wat binne en buite is nie. Paulus sê dit in Romeine baie duidelik dat alle mense gesondig het, ver van God is en straf verdien, maar dat almal ewe veel genade van God ontvang. Jesus het self in Matteus 5:45 gesê: God laat immers sy son opkom oor die wat goed en sleg doen en hy laat dit reën oor die wat reg en verkeerd doen. In kort: God se liefde het die krag om te kan versoen wat onherstelbaar en verdeeld lyk. Wat is die mure van vyandskap wat tussen jou en ander mense staan? En dan is daar die mure van vyandskap wat in die wêreld se politieke arena afspeel en mense net verder verdeel en polariseer. Hoe is die Here se vrede besig om in hierdie gebeure jou te versoen met God en ander? Hoe help die Here jou vandag om deur bolangse emosies en ervaringe deur te breek om ons op ‘n veel dieper vlak by dit wat ons met mekaar in gemeen het, uit te bring?
Gebed
Hemelse Vader, U is die God van liefde, ’n liefde wat geen grens ken nie, ’n liefde wat deur mure breek – mure van vrees, haat, vooroordeel en pyn.
Here, ons sien die verdeeldheid in ons wêreld, tussen mense, families, groepe en nasies – maar ons weet: U liefde is groter as enige skeiding.
U Seun, Jesus Christus, het die muur tussen Jood en nie-Jood afgebreek, en vrede gebring deur Sy kruis.
Breek ook die mure in ons harte af, o Here: die mure van trots, van onvergewensgesindheid, van selfsug en onversoenbaarheid.
Vul ons met U Gees, sodat ons draers van versoening kan wees,
ambassadeurs van U liefde, wat ander nie oordeel nie,
maar omhels met deernis en genade.
Mag U liefde deur ons vloei en elke skeiding oorbrug –
sodat ons saam, as een liggaam,
U Naam kan verheerlik.
Amen.