Dagstuk | Dinsdag 8 Julie 2025

Dagstuk | Maandag 7 Julie 2025
Dagstuk | Woensdag 9 Julie 2025

Genesis 39:9b

Hoe kan ek dan hierdie verskriklike kwaad doen en teen God sondig?”

Refleksie

In Potifar se huis word Josef herhaaldelik versoek deur sy meesteres. Sy weerstand is nie net moreel nie—dit kom uit ’n diepe dat hy moet leef binne God se wil. As jy hierdie gedeelte lees, dan lyk dit baie soos die verhaal van die tuin van Eden. Potifar se vrou het gesien Josef is mooi, sy het hom gevat en na sy hom gegryp het, het sy hom beskuldig eerder as om skuld te erken en Josef word uitgegooi uit die huis. Dit word, myns insiens, doelbewus so vertel om ons te nooi om te sien dat dieselfde patroon van die tuin van Eden herhaal. Anders as in die verhaal van Adam en Eva, kies Josef om getrou te bly aan God, selfs al beteken dit dat hy in die tronk beland.

Josef verloor sy posisie en beland in die tronk, maar hy behou sy integriteit.

Ons leef in ’n wêreld wat dikwels kompromie aanmoedig. Josef se voorbeeld daag ons uit: getrouheid is nie oor beloning nie, maar oor wie ons is wanneer niemand anders kyk nie. Dalk bring ons getrouheid vir God ons vir ’n tyd in “die tronk”—miskenning, alleenheid of selfs onreg—maar Hy eer diegene wat Hom eer (1 Samuel 2:30).

Die versoekings wat ons vandag in die gesig staar lyk dalk ander as die versoekings wat Josef ervaar het, maar die patroon word steeds vandag herhaal.

Waaraan probeer die wêreld jou oortuig om aan deel te neem, wat nie in lyn is met die koninkryk van God nie? Waarvoor moet jy leer om nee te sê?

Waarheen word jy uitgenooi om meer deel te neem aan die Koninkryk van God? Waarvoor moet jy leer om ja te sê?

Gebed

Here, daar is so baie dinge wat ons probeer oortuig om nie volgens U wil en U Koninkryk te leef nie. Help ons om getrou te bly aan U, selfs al beteken dit dat ons vals beskuldig word of verwerp word deur die samelewing rondom ons. Mag ons al hoe meer ja sê vir U en U koninkryk.

Amen.