Dagstuk | Donderdag 24 Julie 2025

Dagstuk | Woensdag 23 Julie 2025
Dagstuk | Vrydag 25 Julie 2025

Nog ‘n aspek wat duidelik sigbaar is onder die Boesmans is dat hulle naby aan die natuur leef.

TEKS: GENESIS 1:28

28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

BOODSKAP

In sommige habitatte waar ons gekom het was dit baie duidelik dat die Boesmans uiters afhanlik is van die natuur vir oorlewing. Hulle vind hulle kos in die natuur. Elke dag sal hulle uitgaan om te soek na vrugte, knolle en wortels om te eet. Ook gebruik hulle die plante in die natuur om medisyne van te maak. Dit het my weereens laat besef hoe kosbaar dit moet wees om so in harmonie met die skepping te leef. So na aan die skepping. Sekerlik soos Adam en Eva geleef het in die tuin van Eden.

In ’n wêreld waar tegnologie vinnig vooruitgaan en mense al hoe verder van die natuur vervreem raak, is dit belangriker as ooit om weer in harmonie met die skepping te leef. Om in harmonie met die natuur te leef, beteken om die wêreld rondom ons met respek, dankbaarheid en sorg te benader.

Die natuur leer ons kosbare lesse — stilte, geduld, aanpasbaarheid en selfs krag in sagtheid. Wanneer ons na bome kyk wat diep wortel skiet, riviere wat deur klip en berg vloei, en voëls wat elke oggend hul lied sing, herinner dit ons aan die wonder van lewe — eenvoudig, maar vol betekenis.

Ons word geroep om nie net gebruik te maak van die aarde nie, maar om vir haar om te gee. Dit beteken minder mors, meer herwinning, bewuste verbruik en ’n herverbinding met dit wat werklik saak maak.

Soos ’n simfonie waar elke instrument ’n rol speel, so het elke plant, dier en mens ’n plek in God se skeppingsplan. Wanneer ons in balans leef met die natuur, vind ons innerlike vrede, gesondheid en ’n dieper waardering vir die lewe self.  Stap vandag uit en waardeer weer die wonderlike skepping wat God vir jou gegee het.

 

GEBED

Die Boesman se Onse Vader

Geskryf deur P.J. van den Heever:

“Onse Vader wat doer êrns vêr bo in die bloulug is, diese warm dag wil ikke op myse kniege tot U kom bid: Lat U se koningskap tog by ons kom, en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre, en lat U se wil gebeure doer bo by U rond, net so gebeure hier by ons Boesm’land se grond. Gee ons vandag onse tjai-impie kos en vergewe ons, onse sondige gemors, sos ons die ander minse sin vergeef. Here lat die kwaad doen goerterse wye draaie om ons loop en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie. Die minse doen sulke lelike goerters teen my, maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie, dan sal U mos ok nie myne raak sien nie. U is vir altyd en vir altyd. Amene my groot Kroon.”