Dagstuk | Vrydag 25 Julie 2025

Dagstuk | Donderdag 24 Julie 2025
Dagstuk | Saterdag 26 Julie 2025

Iets wat my opgeval het as ons by die habitatte gestop het, was die geestelike liedjies wat die Boesmans besig was om te sing. Hulle ken die Here. Ons het nie gegaan om vir hulle van die Here te vertel nie. Danksy die DEGNOS-program wat jare lank al sendingwerk onder die Boesmans doen, ken die Boesmans die Here en leef hulle in ‘n verhouding met Hom. As jy vir hulle vra: “Waar is Jesus?” Sal hulle Antwoord: “ In die hemel en in jou hart.”

TEKS: Johannes 17:3

En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.

BOODSKAP

Wanneer ken ’n mens God? ’n Mens ken God nie indien jy bloot van Hom weet nie, selfs nie indien jy baie van Hom weet nie. Nee, ken het in die Bybel ‘n dieper betekenis. Kennis van God is kennis wat jy van die Heilige Gees ontvang as geskenk, as gawe. Kennis van God is ook om ‘n verhouding met Hom te hê.

Om God te ken is ‘n geestelike gawe. Om God te ken is om aan Hom gebind te wees. Om God te ken, is om deur die Heilige Gees een met Hom te wees.

Binne almal van ons bestaan daar ‘n sterk begeerte om ons Skepper te ken soos ons lees in Joh 17:3 “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus, wat deur U gestuur is”

Dus, wat is die sleutel om God werklik te ken? “Eerstens, is dit baie belangrik om te verstaan dat die mens op sy eie nie die vermoë het om God waarlik te ken nie, as gevolg van ons sondigheid. Ons het Jesus nodig om God werklik te ken. Jesus maak dit duidelik dat Hy die enigste weg na die hemel toe is en ook tot ‘n persoonlike kennis van God: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6).

Een aspek van die Boesmans wat my opgeval het, is dat die mense werklik hunker om meer van die evangelie te leer om God werklik te wil ken. Hou in gedagte dat hierdie mense nie kan lees of skryf nie, so die evangelie word deur middel van prentjies en stories aan hulle oor gedra, maar hulle WIL daar wees. Hulle kerke sit in die middel van die week vol. Die mense smag daarna.

Die Boesmans glo soos kinders. Eenvoudig. God is verhewe, maar ook in ons harte en God sal sorg. Daar is nie dogmas en allerhande kerkpolitiek wat hulle van stryk af bring nie. Hulle bid in hulle Khoitaal tot die lewende God en hulle glo Hy is by hulle. Op verskeie plekke waar ons saam hulle gesing en die Here se naam groot gemaak het, kon ek werklik ervaar het, hier is God. Hy woon werklik onder die Boesmans en hulle ken Hom.

GEBED
Die Boesman se Onse Vader

Geskryf deur P.J. van den Heever:

“Onse Vader wat doer êrns vêr bo in die bloulug is, diese warm dag wil ikke op myse kniege tot U kom bid: Lat U se koningskap tog by ons kom, en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre, en lat U se wil gebeure doer bo by U rond, net so gebeure hier by ons Boesm’land se grond. Gee ons vandag onse tjai-impie kos en vergewe ons, onse sondige gemors, sos ons die ander minse sin vergeef. Here lat die kwaad doen goerterse wye draaie om ons loop en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie. Die minse doen sulke lelike goerters teen my, maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie, dan sal U mos ok nie myne raak sien nie. U is vir altyd en vir altyd. Amene my groot Kroon.”