Daar is geen twyfel dat Boesmans die beste spoorsnyers in die wêreld is nie. Hul moes vroeër spoorsny, want dit is hoe hul oorleef het. Vir die gewone mens beteken spoorsny die volg van ‘n dier se spore, maar die Boesmans volg nie net die spoor nie, hul interpreteer dit. Terwyl ons daar tussen hulle was het die Boesmans vir ons verskeie stories vertel van hoe hulle al spore moes volg om ‘n dier te kon jag sodat hulle iets kon he om te eet.
Nou interessant is dat die Boesmans nie ‘n woord vir dissipel in hulle taal het nie. So moes die sendelinge iets uitdink om die idee van ‘n dissipel oor te dra. Hulle kom toe met die idee van ‘n ‘spoorsnyer van Christus’ na vore, en vandag is dit hoe elke gelowige in Boesmanland homself beskryf – ‘n spoorsnyer van Christus. Dit is nogal vir my ‘n mooi beeld dat ons spoorsnyers van Jesus moet wees. Ons moet juis in Sy voetspore volg.
TEKS: LUKAS 5:27-28.
27Daarna het Jesus uitgegaan en ‘n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.” 28Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.
BOODSKAP
Hierdie beeld van ‘n spoorsnyer as dissipel is vir my kosbaar. Dit is om Jesus te volg. Soos die Boesman die dier se spoor volg so moet ons as gelowiges ook in Jesus se voetspore volg.
Om Jesus te volg beteken om ‘n lewe te leef wat sy leringe en voorbeeld navolg. Dis nie net ‘n godsdienstige etiket nie – dit is ‘n verhouding en ‘n manier van lewe. Hier is ‘n paar kernpunte oor wat dit beteken:
Jy begin deur in Jesus as die Seun van God te glo – dat Hy vir jou sondes gesterf het en opgestaan het uit die dood. Hierdie geloof lei tot ‘n innerlike verandering.
Jesus nooi jou in ‘n verhouding met Hom. Dis nie net om kerkdienste by te woon of reëls te volg nie – dis om Hom elke dag in jou lewe in te nooi en met Hom te wandel.
Jesus het ‘n lewe van liefde, vergifnis, nederigheid, diensbaarheid en geregtigheid geleef. Om Hom te volg, beteken om dieselfde ingesteldheid te hê:
Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” – Mattheus 16:24
Om Jesus te volg beteken jy sal soms moeilike keuses moet maak – selfs lyding of opoffering ervaar – omdat jy Hom eerste stel.
Jesus het die Heilige Gees gestuur om gelowiges te lei en te help. As jy Hom volg, leer jy om op die Gees te vertrou om jou te verander van binne af.
Mag jy ‘n spoorsnyer van Christus wees elke dag van jou lewe.
GEBED
Die Boesman se Onse Vader
Geskryf deur P.J. van den Heever:
“Onse Vader wat doer êrns vêr bo in die bloulug is, diese warm dag wil ikke op myse kniege tot U kom bid: Lat U se koningskap tog by ons kom, en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre, en lat U se wil gebeure doer bo by U rond, net so gebeure hier by ons Boesm’land se grond. Gee ons vandag onse tjai-impie kos en vergewe ons, onse sondige gemors, sos ons die ander minse sin vergeef. Here lat die kwaad doen goerterse wye draaie om ons loop en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie. Die minse doen sulke lelike goerters teen my, maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie, dan sal U mos ok nie myne raak sien nie. U is vir altyd en vir altyd. Amene my groot Kroon.”