Dagstuk | Dinsdag 29 Julie 2025

Dagstuk | Maandag 28 Julie 2025
Dagstuk | Woensdag 30 Julie 2025

Matteus 18:15. As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

Wat doen ons as mense ander te nagekom het deur wat hulle gesê of gedoen het? Die een opsie is om hulle hard tereg te wys. Gister se sessie het daaroor gegaan. Om vanuit ‘n geloofsperspektief die fout te maak deur met ‘n krenkende woord woede te laat ontvlam. Baie mense hou nie van konflik nie en kies eerder om niks te sê nie en die persoon, of omstandighede te ignoreer. Dit los egter nie die konflik op nie en verhoog eerder jou spanning oor tyd heen. Vandag se teks praat met ons oor ‘n ander reaksie. Om die moed te hê om die emosies van woede, of vermyding te oorbrug deur direk met iemand te praat. Hierdie reaksie kom beslis nie natuurlik nie, omdat ons bang is vir die reaksie daarop. Die kanse is goed dat ‘n mens hierdeur ‘n miernes oopkrap wat die situasie net verder vererger.

In die teks praat die Here met ons oor die waarde van eerlikheid. Om nie ons emosies binne onsself op te krop nie, maar om die moed te hê om iemand wat teen ons oortree het met die regte gesindheid te benader. Ons het nie beheer oor hoe iemand hierop mag reageer nie, maar moet vertrou dat ons met die nodige sensitiwiteit iemand anders kan help om sy/haar gedrag en woorde wat seermaak te staak. Hoe praat die Here vandag deur hierdie teks met jou? Vertrou dat die Here jou ook sal wys hoe jy hierdie moeilike taak wat vir jou voorlê, moet aanpak.

 Gebed

Hemelse Vader,
U wat vol genade en waarheid is,
leer my om met ’n rein hart na my broer of suster toe te gaan
wanneer daar struikelblokke of seer tussen ons ontstaan.
Gee my die moed om in liefde en nederigheid die waarheid te spreek,
sonder oordeel, sonder kwaadwilligheid – net met die begeerte om te herstel.

Here, help my om nie my rug te draai op ander wanneer konflik opstaan nie,
maar om gehoorsaam te wees aan U Woord,
en versoening te soek soos U ons leer in Matteus 18:15.
Gee my wysheid om reg te praat op die regte tyd,
en om altyd die eenheid van U liggaam te bewaar.

Mag U Gees my lei sodat ek nie wrok dra nie,
maar vergifnis kies, en vrede nastreef.
Laat elke gesprek wat ek voer getuig van U liefde
en elke stap wat ek neem op die pad van versoening
deur U genade bevestig word.

In die Naam van Jesus Christus bid ek dit,
Amen.