Ontmoet vir Lynette Burger, nuwe kerkraadslid

Oorloë en gerugte van oorloë

Lynette en haar gesin is reeds ongeveer sewe jaar lidmate van die gemeente.  Sy is ’n boorling van Vanderbijlpark waar sy in die Laerskool DF Malherbe en Hoërskool Driehoek skoolgegaan het. Lynette is ’n finansiële makelaar en baie geesdriftig oor haar loopbaan.

Sy is al 24 jaar met Tertius getroud.  Hulle het drie interessante en uitlopende kinders.  Die oudste en enigste dogter, Talita, is die kunssinnige lid van die gesin, Morné is ’n rekenaarspeletjie-entoesias en kleinboet Jurgens spog met ’n uitmuntende algemene kennis.  Lynette is ook baie lief vir honde, veral Cocker Spaniels, maar is tans slegs die eienaar en versorger van twee katte.

Die Burgers is buitelugmense. Om te kampeer en fiets te ry is van Lynette se gunstelingaktiwiteite.  Dan is sy boonop ook ’n motorfietsentoesias en ’n kranige kok.  Wanneer die weer onplesierig is, vermaak sy graag haarself deur ’n legkaart aan te pak.

Oor wat haar opgewonde maak oor Stellenberg-gemeente, sê Lynette die volgende: “Dit gaan vir my oor die samekoms van gelowiges wat later vriende word – nie net op Sondae nie, maar ’n groep mense wat ook lekker saam met ds. René kan gaan stap en sommer op ’n Vrydagaand ’n vleisie by die kerk braai. Dit skep ’n gesonde sosiale omgewing waarbinne gelowiges kan beweeg. Die moeite wat met die kinders gedoen word om hulle te leer en te betrek, is wat my betref baie belangrik.  Ek is opgewonde om meer betrokke by die gemeente te wees.  Ek is nog onseker oor my rol in die kerkraad, maar ek stel myself tot die Here se beskikking en vertrou dat  Hy vir my die pad sal aanwys.”