Dagstuk | Woensdag 20 Augustus 2025

Dagstuk | Dinsdag 19 Augustus 2025
Dagstuk | Donderdag 21 Augustus 2025

Vandag is Woensdag 20 Augustus en welkom by hierdie week se oordenkings. Die woord “Sela” in die Bybel, veral in die Psalms, is soos geheimsinnige musieknote wat ons nooi om te stop, asem te haal, en God se teenwoordigheid te ervaar.

Vandag gesels ons oor Sela as vertroue in God. Hierdie vertroue in God is ‘n rus in God se beloftes. In Psalm 62:9, gevolg deur “Sela,” lees ons: “Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle harte voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug. Sela. Hierdie “Sela” nooi ons hier om te stop en ons vertroue in God te hernu. Vertroue beteken om ons bekommernisse voor Hom neer te lê en te rus in sy beloftes. In ’n wêreld vol onsekerheid is “Sela” ’n herinnering dat God ons veilige hawe is.

Maak vandag ’n lys van drie bekommernisse of uitdagings in jou lewe. Lees Psalm 62:6-9 en skryf langs elke bekommernis ’n belofte van God (bv. “Hy is my toevlug” of “Hy sal my lei”). Neem vyf minute om hierdie bekommernisse in gebed aan God oor te gee. Visualiseer dat jy dit in sy hande plaas. Herhaal hierdie proses deur die dag wanneer angs opduik, en gebruik “Sela” as ’n herinnering om te vertrou.

Gebed: Here, U is my rots en my verlosser. Help my om my hart voor U uit te stort en op U te vertrou, selfs in onseker tye. Laat elke “Sela” oomblik my herinner aan u getrouheid. Gee my vrede om in U te rus. Amen.