Dagstuk | Maandag 1 September 2025

Dagstuk | Saterdag 30 Augustus 2025
Dagstuk | Dinsdag 2 September 2025

Ons bevind onsself in die oorgang van seisoene waarin die lente wat bod op ‘n besondere manier met ons oor nuwe lewe en groei praat. In hierdie week se dagstukke gaan ons daaroor nadink.

Ek wil vandag begin deur twee tekste uit die Psalm te lees.

Psalm 24:1-2

Die aarde met alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here, want Hy het die fondamente daarvan gelê en dit stewig gevestig in die waters.

Psalm 104: 24

U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in U wysheid geskep.

Die profeet Jona het God se grootheid bely, maar gesukkel om te aanvaar dat God hom hom oor die mense van Assirië wat in Nineve gebly het, ontferm. Die rede was dat hulle die reputasie gehad het van ‘n magtige en wrede nasie. In Jona se beoordeling was hulle sleg en het nie verdien om in die voorreg van God se skepping te deel nie. Hy het botweg geweier om sy opinie en perspektief oor hulle te verander. En dan eindig Jona se storie waar God ook sy bekommernis oor die stad uitspreek en tot Jona se verdere frustrasie noem dat die stad ook nog baie diere het waaroor God hom wil ontferm. Wat ‘n kragtige boodskap oor God as Skepper. Die belydenis dat God die skepper van hemel en aarde is (alles geskep en vir alles omgee) glip maklik oor ons lippe – maar die implikasie daarvan is uitdagend en het verrykende gevolge hoe ons vandag binne God se skepping teenoor mense, diere en die natuur leef. Bedink vandag die gedagte: Alles wat bestaan het God in sy groot wysheid geskep. Dink daaroor dat God nie bedoel het om die betekenis daarvan te verberg nie, maar dit aan ons te openbaar! God deel dit wanneer ons met dankbaarheid, geloof en liefde in God se skepping meeleef. Daarvoor hoef ons nie soos Jona ver na Nineve te reis nie. Dit is die wonder van hierdie openbaring.

Gebed

 

Here ons Skepper,
U het die hemel en die aarde gemaak,
die berge, riviere, die see en al die lewende wesens.
Alles getuig van U liefde en wysheid.

Vergewe ons waar ons nalatig was,
waar ons die aarde misbruik en u skepping geskend het.
Leer ons om rentmeesters te wees—
om te koester, te beskerm en te deel.

Maak ons oë oop vir die skoonheid rondom ons,
en ons harte ontvanklik vir die noodkrete
van die aarde wat sug onder ons gierigheid.
Laat ons hande en voete dien as werktuie van U liefde,
sodat toekomstige geslagte ook U grootheid
in die natuur kan aanskou.

Here, gee ons wysheid,
om verantwoordelik te leef,
om gehoorsaam te werk met U Gees
en om U skepping met dankbaarheid te eer.

Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus,
deur wie alles geskape is,

Amen.