Dagstuk Maandag 8 September 2025

Dagstuk | Saterdag 6 September 2025
Dagstuk | Dinsdag 9 September 2025

Dit is lente en ons is in die seisoen van skepping besig met ’n reeks oor vrede met die skepping. Wanneer ons aan die skepping dink, dink ons gewoonlik aan die groter prentjie, van die son, maan, sterre en die aarde en alles daarop. Maar hierdie week word ons genooi om op te let na die klein dingetjies in die skepping en hoe ons kan leer by die dingetjies wat ons so maklik verbykyk. Om in vrede met die skepping te leef, beteken om vêrder as net onsself te kyk, na die wêreld om ons en te besef dat die wêreld nie rondom ons as mense draai nie – ons is maar een deel van God se goeie skepping, wat genooi word om in ’n verhouding van vrede met mekaar te leef. Vir die eerste paar dae kyk ons na gesegdes uit Spreuke en ons sluit af met twee gedagtes van Jesus.

Vandag begin ons by Spreuke 30:25

Spreuke 30:25

Vier is die kleines van die aarde, maar hulle is buitengewoon slim: Die miere is ‘n gemeenskap wat nie sterk is nie, en tog berei hulle vir hulle kos voor in die somer.

Refleksie

Kyk na die miere en sien raak hoe hulle in die somer voorberei vir die winter. Mense vandag leef asof die winter nie op pad is nie. Die mensdom beleef vandag voorspoed soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie, maar hierdie voorspoed kom teen ’n prys. Ons is besig om die aarde se hulpbronne met ’n onvolhoubare spoed te gebruik. Daar is ’n term wat ons noem Aarde-Oorskrydingsdag of Earth overshoot day, wat die dag in die jaar is wanneer die mensdom se vraag na ekologiese hulpbronne oorskry wat die aarde in dieselfde jaar kan herwin, wat lei tot ‘n onvolhoubare ekologiese tekort. Hierdie jaar, teen 24 Julie, het ons reeds ‘n jaar se hulpbronne verbruik. As almal geleef het soos mense in die VSA, sou dit alreeds teen 13 Maart bereik gewees het, terwyl as almal geleef het soos in Indonesië, sou dit eers op 18 November plaasgevind het. Suid-Afrika is mooi in die middel, op 2 Julie. Dit beteken, as almal leef soos wat ons vandag in Suid-Afrika leef, sou ons die hulpbronne van 1 en ’n half aardes nodig hê om volhoubaar te leef. Ons is besig om in die somer te leef asof die winter nie kom nie.

Miere is broos, klein en weerloos – tog oorleef hulle deur vooruit te beplan. Hulle is nie sterk of indrukwekkend nie, maar hulle wysheid lê daarin dat hulle saamwerk en betyds voorberei. Die skrywer van Spreuke nooi ons uit om te kyk na die miere en van hulle te leer.

In ons vinnige lewens wil ons dikwels groot, dramatiese veranderinge hê – maar die miere herinner ons dat klein, eenvoudige stappe van wysheid ’n groot verskil maak. Spreuke nooi ons ook om raak te sien dat die kleinste dingetjies ’n belangrike deel van God se skepping is –  selfs die kleinste wesens het ’n rol om te speel in die groter ekosisteem.

Wat sou dit beteken as ons met dieselfde wysheid en vooruitbeplanning met die aarde en haar hulpbronne omgaan?

Wat is ’n klein, eenvoudige manier waarop jy vandag kan help om beter vir die aarde te sorg? Dit kan iets wees soos om kos vermorsing te verminder, water ’n bietjie meer spaarsaam te gebruik, of om jou plastiek te herwin eerder as om dit in die asblik te gooi. Soos die miere ons wys, maak klein stappies tog ’n groot verskil.

Gebed

Skepper-God, dankie vir die wysheid van die miere. Leer ons om vooruit te kyk, te beplan, en klein stappe van wysheid te neem. Gebruik ons om ook ’n verskil te maak en te sorg vir die skepping, al voel ons klein en onbenullig. Amen.