https://youtu.be/Gv3EiOzYs2g
In hierdie week kyk ons na die klein dingetjies rondom ons. Spreuke 30:24 nooi ons om te kyk na die wêreld rondom ons en die dinge raak te sien wat klein is, maar wat buitengewone wysheid het. Vandag kyk ons na Jesus se wysheid oor die klein dingetjies
Jesus nooi ons om die klein saadjies, wat ’n groot verskil kan maak, raak te sien. Die koninkryk van God is soos die klein saadjies, wat mense nie eers raak sien nie, maar wanneer dit opkom, het dit die potensiaal om ’n groot verskil te maak. ’n Mosterdplant in Jesus se tyd, is nie iets wat jy sommer in jou tuin, of land sou plant nie. Dit is as ’n onkruid beskou en boonop nog onrein. Dit is ’n klein saadjie, maar wanneer dit eers opkom skiet dit nog duisende saadjies en raak jy nie sommer weer vinnig daarvan ontslae nie. Jesus beskryf ook hoe dit ’n tuiste skep vir ander wesens, vir die voëls om daarin nes te maak.
Op ’n ander plek vergelyk Jesus geloof met ’n mosterdsaad. Dalk nooi Jesus ons uit, nie om geloof in die groot dinge te hê nie – dit is maklik om te glo in groot goeters – maar juis geloof in die klein dingetjies te hê. Om te glo dat dit die klein onsigbare saadjies van die koninkryk is, wat tot ’n groot verskil lei.
Die koninkryk is soos iemand wat klein saadjies saai… Watter klein saad kan jy vandag saai wat ’n verskil maak vir die aarde en jou gemeenskap – al sien jy nie dadelik die vrug daarvan nie? Hoe kan jy geloof hê dat die klein dingetjies, ’n groot verskil kan maak?
Here, gee ons vandag die geloof van ’n mosterdsaad – die geloof van die klein dingetjies. Help ons om die saadjies van die koninkryk te saai, wat groei, nie deur ons eie krag nie, maar deur U krag, om ’n groot verskil te maak. Leer ons om die klein saadjies van liefde, hoop en sorg te saai. Help ons vertrou dat U dit sal laat groei tot iets wat lewe bring vir die wêreld.
Amen.