In hierdie week kyk ons na die klein dingetjies rondom ons. Spreuke 30:24 nooi ons om te kyk na die wêreld rondom ons en die dinge raak te sien wat klein is, maar wat buitengewone wysheid het. Vandag kyk ons na Jesus se wysheid oor die klein dingetjies
Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? 27Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? 28En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. 29Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. 30As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in ‘n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges?
Elke dag, word ons gebombardeer met duisende redes om bekommerd te wees. In ’n klomp maniere is die samelewing vandag die beste wat dit nog ooit was, maar tog is die redes om bekommerd te wees soveel meer. Stres en angs neem toe in vandag se samelewing, ten spyte van die beter lewensverwagting en lewenskwaliteit. As ons kyk na die dreigende kwessies soos klimaatsverandering en besoedeling, wat besig is om ons toekoms van ons te steel, het ons rede om bekommerd te wees.
Maar Jesus nooi ons om rondom ons te kyk, na die natuur en tyd daar saam met die Here deur te bring. Laat die voëls en die lelies getuig dat ons nie bekommerd hoef te wees nie – soos wat die Here vir hulle sorg, sal die Here vir ons ook sorg. Later sê Jesus: “Soek eers die koninkryk…” hoeveel van ons tyd word opgevat deur ons wat ons aandag skenk aan dinge wat eintlik nie belangrik is nie? Hoe kan ons seker maak dat ons aandag gevestig is op die koninkryk?
Een van die redes vir toenemende stres, is dat ons al hoe meer verwyderd van die skepping en natuur leef. Dit beteken ook dat mense minder omgee vir die natuur, omdat dit al hoe minder deel is van ons onmiddellike leefwêreld. Op ’n ironiese wyse, sien ons nie meer die voëls in die lug en die lelies in die veld nie en word hulle al hoe meer bedreig omdat ons vêr van hulle af leef.
Ons word genooi om nader aan die skepping te leef en rondom ons te kyk. Een van die maniere om stres en angs te verminder, is om tyd in die natuur deur te bring. Om, soos Jesus ons nooi, te kyk na die klein plante en diere rondom ons en die Here daarin raak te sien. Dalk, wanneer ons dit doen, help dit ons ook weer om mooier te kyk na die Skepping. In hierdie manier is Jesus se uitnodiging om te kyk tweedelig: Kyk na – sien raak; kyk na – sorg vir.
Mag ons kyk na die skepping.
Doen vandag moeite om te kyk na die skepping. Gaan stap buite en let op. Vra vir jouself, hoe kan ek beter kyk na die skepping waarin ek leef?
Here, help ons om te kyk na die Skepping – om raak te sien hoe U betrokke is in die wêreld en hoe U ook sorg vir ons. Help ons om te kyk na die skepping – om te sorg vir alles wat U gemaak het.
Amen.