Dagstuk | Maandag 29 September 2025

Dagstuk | Saterdag 27 September 2025
Dagstuk | Dinsdag 30 September 2025

 

Tema: Skepper van die hemel en aarde

Teks. Kolossense 1:15-16. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, ook die engele om Sy troon, en al die geestelike magte.

Wanneer ons ons geloof hardop in die kerk bely begin ons met die sin: Ek glo in God, die almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Ons teks vat hierdie belydenis nog verder om God se mag en beheer uit te brei na alles wat ons sien, dit wat ons nie kan sien nie, die engele in die hemel en al die geestelike magte. Wat is die implikasie van so ‘n geloof te midde van die chaos wat ons binne ons lewens en wêreld beleef? Chaos maak vrees in ons wakker wat op sy beurt weer allerhande ander negatiewe gedagtes en reaksies in ons losmaak. Mense waag met voorspellings wat net weer nog vrese laat uitstyg. Die geloof wat die Here in ons wil wakker maak wek nie vrees nie, maar liefde.

In 1 Johannes 4:17 lees ons die volgende: “Hierin het die liefde van God sy volkome doel in ons bereik, ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie”. As ons werklik glo dat die Skepper van hemel en aarde ook oor ons hede en toekoms in beheer is, sal ons God ook vir hierdie hede vertrou waarbinne ons daagliks geroep en geinspireer word. Nie om te wil beheer deur vrees en voorspellings nie, maar prakties deur die omgee wat hy in hierdie dag in ons harte wil losmaak. Jy sou vandag kon praat oor dit waarvoor jy bang is en hoe jy die mense daaragter kan stuit, of jy sou eerder kon praat oor die omgee wat die Here in jou losmaak waar jy jouself nou bevind.

Gebed

Here Jesus Christus,
U is die beeld van die onsigbare God,
die eerste en hoogste bo alle skepping.
Deur U is alles gemaak,
in die hemel en op die aarde,
sigbaar en onsigbaar –
alles bestaan deur U en vir U.

Here, wanneer ons harte vol vrees is,
help ons om te onthou dat U die Skepper en Koning is.
U liefde het lig gebring in die duisternis
en ons bevry van die greep van vrees.
Laat ons rus vind in U teenwoordigheid,
want volmaakte liefde dryf alle vrees uit.

Leer ons om in U liefde te leef,
om mekaar met sagmoedigheid te dra,
en om met hoop na die toekoms te kyk.
Mag ons altyd onthou dat U groter is as ons vrese,
en dat U liefde die laaste woord het.

Amen.