Dagstuk | Woensdag 1 Oktober 2025

Dagstuk | Dinsdag 30 September 2025
Dagstuk | Donderdag 2 Oktober 2025

Tema: Geskep om goed te doen

Teks. Efesiërs 2:10. God het ons gemaak wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

In ons teksgedeelte is Paulus in gesprek met gelowiges in Efese oor die daaglikse realiteite waarin hulle uitgelewer is. Hy praat oor die invloed van die bose wat om hulle, maar ook in hulle self aan die werk is en hoe dit hulle daaglikse lewens beïnvloed. Maar dan volg die boodskap van God se reaksie. Net soos die wêreld om ons verdien ons ook God se straf, maar God is anders: God se genade is groter as die boosheid om en in ons. Dan volg die boodskap van ons teks wat met ons praat oor ons hier wees en God se bedoeling met ons lewens. Dis eenvoudig: Ons word geroep om goed te doen. Ons lewens en wêreld kan in druk tye baie deurmekaar en doelloos voorkom omdat ons gedagtes oorheers word deur dinge wat verkeerd of skeef loop. Paulus deel vandag met ons ‘n waarheid wat aan ons lewens en die sin daarvan rigting gee. God se sorg en vergifnis is groter as die gebrokenheid en kwaad. Hy het ons gemaak wat ons nou is. Ons is mense wat voortdurend deur God verlos word – ons word verlos van doelloosheid om goed te doen. Daar is min dinge wat ‘n mens so inspireer soos dankbaarheid. Hoe is jou eie dankbaarheid wat voortspruit uit jou verlossing besig om jou vandag te inspireer om jou aandag te fokus op die dinge wat binne jou vermoë is?

Gebed

Hemelse Vader,
ons dank U dat ons U maaksel is,
geskep in Christus Jesus
om die goeie werke te doen
wat U lankal vir ons voorberei het.

Here, vul ons harte met dankbaarheid,
dat elke dag ’n geskenk uit U hand is.
Laat ons nie leef vir onsself nie,
maar in liefde ander dien.

Gee dat ons hande vrygewig sal wees,
ons woorde sag en opbouend,
en ons voete gewillig om die pad van vrede te loop.

Ons prys U, Here,
dat U ons nie net gered het nie,
maar ook ’n doel aan ons lewens gegee het.
Mag ons elke dag getuig van U goedheid
deur die werke van liefde wat U in ons begin het.

Amen.