Dagstuk | Saterdag 4 Oktober 2025

Dagstuk | Vrydag 3 Oktober 2025
Dagstuk | Maandag 6 Oktober 2025

Tema. Waar sal my hulp vandaan kom?

Teks. Psalm 121: 1-3. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. 

Die afgelope maand het die seisoen merkbaar om ons verander. Die groen het in die vaal van die winter begin deurbreek en die lig van die dag het merkbaar gerek. En so breek ‘n nuwe seisoen vir ons deur. In die afgelope maand het ons baie nagedink oor hoe God op ‘n besondere manier in en deur Sy skepping by ons is. Soos wat nog ‘n seisoen by ons verbygaan bring Psalm 121 ons by die besonder plek van vertroue: Om elke oggend vir ‘n oomblik by jou deur te staan voor jy jou dagreis aanpak en die vraag te vra: Ek kyk op na die dag wat voor my lê en die plekke waar dit my gaan bring – waar sal daar vandag vir my hulp kom? Weet dan, dat die Here deur reën en sonskyn jou tot hier gebring het om ook weer hierdie nuwe dag in te gaan. Waar jy ook al gaan word jy omring deur God, die almagtige, die Skepper van hemel en aarde wat deur jou uniekheid lewe bring.

  Gebed

Here,
Seën my en hou my naby U.
Laat U lig oor my skyn en wees my genadig.
Draai U aangesig na my toe,
en gee my U volmaakte vrede.

Mag U seën my dra in my huis,
in my werk, en in my verhoudings.
Mag ek elke dag leef uit U guns,
en rus in U vrede wat alle verstand te bowe gaan.

In die Naam van die Vader,
die Seun,
en die Heilige Gees.
Amen.