
In die begin van die jaar het nog ’n mannegroep, vir manne tussen die ouderdom 35 en 55 jaar oud, die lig gesien. Die groep se naam, Halftydgroep, verklap die lede se ouderdom en ons doel is om die volgende helfte van ons onderskeie lewensreise saam af te lê. Ons bespreek tans temas aan die hand van die boek HalfTime – Moving from success to significance. Tien van die groeplede het besluit om hierdie jaar die Outeniekwa-driedag-staptog saam aan te pak. Die wonderlike ervaring in die natuur en die aanpak van so ’n uitdaging resoneer sterk met ons groep se waardes en doelwitte. Ons het saans die dag se stap afgesluit deur na te dink oor dié roetemerker wat ons groepie tans saam in die halftydfase van ons lewens vier.
Die stappers deel elkeen hulle persoonlike ervaring van die avontuur:
REGARDT NELSON – Ek was baie bevoorreg om van 24 tot 27 September 2025 deel uit te maak van ’n groep van tien stappers in die Outeniekwaberge – die Halftydmanne. Dit was ’n ongelooflike ervaring om die natuur so te ervaar. Ons is oor berge en dale, oor ronde bossies en hoë walle, oor fisanthoeke en deur woude vol varings. Langs die knetterende kampvure of middagete-gasstofies, is lekker stories oor die dag se stap vertel. Ek kan dié asemskep beslis aanbeveel! Dankie aan ds. Johan vir sy reëlings. Met die aanvang van die verrigtinge was ons vreemdelinge, maar toe die N2 ons Sondag huiswaarts neem, was ons hegte vriende! Tot volgende keer!
PELSER UYS – Om vir ’n oogwink uit die gejaag van die “regte lewe” te kon kom, was goed vir die siel. Die eenvoud van slaap, eet, stap, rus, herhaal het my weer geanker en nie net nader aan die Skepper gebring nie, maar ook weer nuwe waardering vir die natuur gegee. Die natuur is geduldig, nie gejaag nie en konstant en tog is die natuurskoon wat ons gesien het, amper moeiteloos perfek geskape. Van die groot geelhoute tot die goggas en knysnaloerie – die natuur bring mens weer terug aarde toe op die mooiste manier moontlik. ’n Pragtige belewenis saam met n goeie groep vriende – Outeniekwa 2025 was goed.
ERHARDT TEUBES – Omdat daar geen soortgelyke geleentheid in ons normale besige stedelike ritmes is nie, was hierdie Outeniekwa-staptog vir my baie waardevol. Ek was verbaas oor hoeveel ek geleer het by die nege ander manne wat in dieselfde lewensfase en omstandighede as ek is. Dit was ook ’n fantastiese ervaring om so saam met medegelowiges in Christus, in God se onbeskryflik mooi skepping te stap. Die Outeniekwabos met al sy prag is ’n baie goeie toonbeeld van broosheid en gehardheid – soos die lewe ook is.
CONRAD KOORTS – Ek het op die staptog gegaan vir myself; om stil te word, weer te verbind met God en met myself, en ook om my eie grense uit te daag. Tog het ek met soveel meer teruggekeer: die herbesef dat die Here ons nooit bedoel het om alleen te stap nie. Sy Woord herinner ons daaraan dat ’n driedubbele tou nie maklik gebreek word nie (Prediker 4:12), en dat ons mekaar se laste moet dra (Galasiërs 6:2). Wanneer manne van God saamstaan, vind ons krag en moed om te leef in ’n wêreld wat al hoe meer van ons verwag. Josua 1:9 herinner ons: “Wees sterk en vol moed . . . want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” En dit is juis in gemeenskap, saam as broers, dat ons hierdie opdrag die beste kan uitleef.
GERRIT SMIT – Wil net weereens baie dankie sê vir die heerlike staptog. Wat ek uit die avontuur verkry het, is dat ons elkeen ons eie, verskillende uitdagings in hierdie stadium van ons lewe ervaar, maar as die mense in ’n gemeente mekaar ondersteun, saam met die Here, is daar soveel vreugde en omgee wat onbekend sal bly indien die geleentheid nie aangegryp word nie.
JOHNNY HUYSAMEN – Die Halftydstap: Een van my grootste persoonlike fisiese uitdagings tot op hede, maar ongelooflik bevredigend. Die geleentheid om saam met ander manne, in dieselfde lewensfase en met soortgelyke uitdagings en vrae, tyd te kon spandeer, was ’n ervaring wat geen geld kan koop nie. Dit is groep waar nonsens praat en diep gesprekke ewe welkom en belangrik is. Die totale afskakel van die wêreld daarbuite, net gefokus op gesprekke met die manne om jou, die fisiese uitputting en die ongelooflike natuur, was die beste medisyne wat mens ooit voor kon vra. Daar aangekom as kennise, daar weggegaan as vriende.
DIRK HEYNEMAN – Vir my persoonlik was dit ’n baie geseënde wegbreek. Eerstens om weer bietjie weg te kom van werk en die alledaagse gejaag, en om met mans van soortgelyke ouderdom en lewensuitdagings te kon opvang en te besef dat ek nie alleen is in my uitdagings en bekommernisse nie. Tweedens was dit ook ’n tydjie waar ek weer nader kon kom aan my Skepper en verslae kon staan oor sy pragtige handewerk. Ek kan dit aanbeveel vir enige man wat bietjie wil wegkom en motivering benodig.
JOHAN THIART – Om een ding oor die stap uit te sonder is vir my opsig self baie moeilik want daar was so baie. Daar was die opwinding van die stap . . . ’n ontdekkingstog deur die vreemde. Die nuwe vriende wat gemaak is. Om jouself van ons daaglikse gejaagde lewens te isoleer en nader aan die Skepper te beweeg. Die stilte wat jou opnuut laat besef dat ons in die daaglikse gejaag die lewe mis.
Met die stap het ek geleer dat ons almal (hoe verskillend ons ook al is) dieselfde behoefte het om stil te raak en in “sync” te kom met ons geloof. Almal van ons bakklei en stoei met probleme, omstandighede, ens. maar soos die berge en klowe wat ons geklim het is dit in die lewe ook soveel makliker wanneer jy die lewe se berge hulp en aanmoediging en vriende kan klim. Om in ’n groep te sukkel en mekaar te help is baie makliker as om alleen te sukkel. Weereens baie dankie vir die geleendheid om saam met julle te kon stap. Met die intrap het ek sommer baie tuis gevoel en ek het verseker goeie vriende gemaak.
Indien jy belangstel om in te skakel by die groep, skandeer gerus die onderstaande OR-kode wat jou sal verbind met die WhatsApp groep. Sodoende kan jy op hoogte bly van ons samekomste en geleenthede.
