TEMA: Stiltetyd is tyd by Jesus se voete
TEKS: Lukas 10:39 : En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister.
In Lukas 10 ontmoet ons twee susters, Marta en Maria. Hulle het Jesus as gas aan huis ontvang en uit beide se optrede kan ons aflei dat hierdie vir hulle ‘n belangrike gebeurtenis was. Hulle optrede verskil egter geweldig baie. Marta kies om alles skoon te maak en alles gereed te maak, omdat sy het hierdie belangrike gas ontvang, maar Maria gaan sit by Jesus se voete om van Hom te leer. Vanuit ‘n menslike oogpunt is dit heeltemal te verstane dat Marta so optree. Met die eerste oogopslag lyk dit of Maria lui is. Dit wil voorkom asof sy nie omgee oor al die werk wat gedoen moet word nie. Maar tog bring Jesus die perspektief in die situasie – dit is belangrik om te werk en dis belangrik om by Jesus se voete te sit. En Maria het van die twee nou die beste gekies.
Dit is ook baie keer die geval in ons eie lewens dat ons so besig is en dat daar soveel dinge is wat ons aandag verg dat ons net nie tyd het om werklik stilt te word by die Here nie. Dit is baie belangrik om te verstaan dat daar altyd nog iets sal wees om te doen. As ons alles gaan doen wat daar is om te doen voordat ons by Jesus se voete gaan sit, sal ons net soos Marta nooit by Jesus se voete gaan sit nie.
Dit word vertel van Susanna Wesley, die ma van die Skotse prediker, John Wesley. Sy het die lewe aan negentien kinders geskenk, waarvan tien oorleef het. Vroeg in haar lewe het sy ‘n belofte gemaak om nooit meer tyd aan ontspanning of vermaak te spandeer as wat sy aan gebed en Bybelstudie sou nie. Selfs te midde van die mees veeleisende en besigste seisoene van haar lewe as ‘n ma, het sy steeds in die dag tyd opsy gesit vir gemeenskap met God en tyd in sy Woord. Haar uitdaging was egter om ‘n privaatplek in ‘n huis vol kinders te vind. Haar oplossing was om op haar gunstelingstoel te gaan sit en haar lang voorskoot oor haar kop te gooi om ‘n soort tent te vorm. Elkeen in die huishouding, van die kleinste tot die grootste en oudste, het goed geweet dat sy dan by God was en nie gesteur moes word nie. Daar in die privaatheid van haar eie “tabernakeltjie” het sy die diep verborgenhede van God in intimiteit en in sy Skrif leer ken.
Ek en jy word elke dag voor ‘n keuse gestel. Ons kan, soos Martha, rondhardloop om die verantwoordelikhede en take van die lewe so vinnig as moontlik af te handel. En dit is belangrik om ons dagtake af te handel. Of ons kan, soos Maria, tyd neem om by die voete van Jesus te gaan sit en na Hom te luister. Kies vandag om ‘n dieper verhouding met Jesus te bou deur die gejaagdheid van die lewe eenkant toe te skuif sodat jy jou gedagtes en hart kan fokus op Sy teenwoordigheid. Daar sal altyd nog genoeg tyd wees om die take van die dag af te handel.
Vader, dankie vir die gawe van om tyd saam met U te kan spandeer. Help my om, soos Maria, dit ‘n prioriteit te maak om by Jesus se voete te sit en so ‘n dieper verhouding met U te bou. Dankie dat U nooit te besig is om met my te ontmoet nie, Here. AMEN.