Dagstuk | Donderdag 9 Oktober 2025

Dagstuk | Woensdag 8 Oktober 2025

https://youtu.be/hj44T4xVT4A

 

TEMA: Jesus stel vir ons die voorbeeld

 TEKS: Mat 14:23 “Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen”

BOODSKAP

Dinsdag het ons gekyk na Marta en Maria. Marta was besig, besig, besig. Daar was so baie dinge wat haar aandag vereis het, maar Maria het alles laat staan en by Jesus se voete gaan sit en na sy woorde geluister. Daar is baie dinge wat ons aandag kan eis. As ek my nie doelbewus afsonder en stilraak nie, dan gaan ek ‘n baie moeilike tyd hê om ‘n kwaliteit ontmoeting met God te hê.

Jesus het ‘n besondere vol bedieningsprogram gehad, maar Hy het Homself gereeld afgesonder om tyd te maak met die Vader. Jesus het mense deur sy voorbeeld geleer. Dit het nie saak gemaak hoe besig Hy was nie, Hy was altyd in noue kontak met sy Vader in die hemel. Selfs toe Hy baie besig en gewild was, het Hy tyd gemaak om te bid. Jesus het ‘n diep en intieme verhouding met die Vader gehad. Wanneer ek ‘n intieme verhouding met iemand het, is dit net natuurlik dat ek meer tyd met daardie persoon sal wil spandeer. Dit is presies wat Jesus gedoen het. Regdeur die Evangelies lees ons dat Jesus Homself gereeld afgesonder het om eenkant alleen saam met die Vader tyd te spandeer.

Daar is genoeg voorbeelde in die Skrif wat dit vir ons duidelik maak dat tyd in stilte en afsondering nodig is vir ons. Dit is nie in die gedruis van die dag wat ons die Here se stem gaan hoor, Hom gaan beleef en leiding van die Heilige Gees gaan kry nie, maar in die fluistering in die windstilte waar ons die Here gaan ontmoet! Want dit is wanneer ons soos Jesus alleen tyd saam God spandeer wat ons op Hom fokus en ons gedagtes op Hom rig. Daarom moet ons ook net soos Jesus gereeld tyd maak om by ons Vader uit te kom en in Sy teenwoordigheid te wees.

GEBED

Here Jesus, U het vir ons so ‘n goeie voorbeeld gestel en gereeld tyd saam met U Vader deurgebring. Ek wil graag U voorbeeld volg. Lei my in U voetspore. Amen