Dagstuk | Vrydag 10 Oktober 2025

Dagstuk | Donderdag 9 Oktober 2025
Dagstuk | Saterdag 11 Oktober 2025

TEKS :  Psalm 1:3: Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, 2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

TEMA: Die waarde om God se Woord te bestudeer

BOODSKAP

Ons almal weet dat ons moet eet sodat ons aan die lewe kan bly. Ook het ons geestelike lewe geestelike voedsel nodig. En die kos waarop ons gees floreer, is die Woord van God. ‘n Mens se liggaam gaan agteruit en raak swak wanneer jy vir ‘n lang tyd nie eet nie. As dit onbeperk aanhou, gaan jy dood. Ongelukkig kan ‘n mens nie jou gees sien nie, so jy sien nie hoe jou gees agteruit gaan en swakker word as dit nie gevoed word nie. Maar jy beleef dit dat jy nie geestelik op ‘n goeie plek is nie. Jou behoefte aan geestelike kos is dus net so groot soos jou behoefte aan regte kos om te eet.

 

Ons geestelike kos vind ons juis wanneer ons die Woord van God bestudeer. Die mens wat sy krag en geestelike voedsel by God se woord vind is dan soos  ‘n groeiende boom by waterstrome. Die idee van ’n boom by waterstrome spreek van lewenskrag, standvastigheid, vrugbaarheid en mooiheid. Wat water vir ’n boom is, is die Woord van God, vir die kind van God. Die lewe van die regverdige is geheel en al van die water van die Woord afhanklik is. Die vrug wat aan die regverdige se boom sigbaar is, is die natuurlike gevolg van ons verbondenheid aan God en Sy Woord. Tyd in die Woord is van onskatbare waarde. Dit is juis God se Woord wat ons lewe rig en lei en ons deur die lewe laat reis.

GEBED

Here, dankie vir U Woord wat ek in my eie taal kan lees. Ek wil graag genoeg tyd daarin spandeer om te dit lees en te bestudeer. Help my asseblief daarmee. amen