Ons stap hierdie week stadig deur Jesus se woorde in Matteus 11:28: “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.
Vandag rus ons by “Kom na My toe, almal …”
Jesus se uitnodiging is vir almal. Hy kwalifiseer nie sy uitnodiging nie. Dis nie net vir die geestelik sterk of die gedissiplineerdes nie. Dit is nie vir die spesifieke groep mense waarvan ek hou nie. Dit is vir almal.
Hoe groot is jou almal? Is daar dalk iemand wat vir jou uitgesluit is uit hierdie uitnodiging? Dalk voel jy self nie altyd goed genoeg om in Jesus se teenwoordigheid te wees nie. Die uitnodiging is vir jou ook.
Dis vir die moeës, die wat oorwerk is, die wat twyfel, die wat voel hulle bid te min, en dié wat net kop bo water probeer hou, selfs die waarvan jy nie jou nie. Jesus sê dit juis in ’n konteks waar die mense met wie Hy praat onderdruk word deur ’n sisteem van ongelykheid en ongeregtigheid. Maar dit beteken nie die uitnodiging is net vir die onderdruktes nie, maar selfs vir die verdrukkers.
Met die afskaffing van Apartheid, het Suid-Afrika die waarheid- en versoeningskommissie gestig, wat geleentheid vir beide die slagoffers en die verdrukkers gebied het om hul stories te vertel. Aartsbiskop Desmond Tutu het gesê hierdie kommissie is nie net ter wille van die genesing van die slagoffers nie, maar sodat die verdrukkers ook genees kan word.
Die uitnodiging is vir almal.
Jesaja 40:29 sê: “Hy gee krag aan die vermoeides, Hy vermeerder sterkte vir dié wat nie meer kan nie.” Sy uitnodiging sluit almal in, want almal kom op ’n plek waar jy moeg en oorlaai voel. Wanneer ons dit hoor, mag ons ook leer om ander nie uit te sluit van hierdie genade nie — om vir mekaar ruimte te maak aan die voete van Jesus.
Jy is welkom in Jesus se teenwoordigheid, saam met almal.
Wie in jou lewe het dalk vandag nodig om te hoor dat God se uitnodiging ook vir húlle is?
Hoe kan jy dit sag oordra?
Wie sukkel jy om te aanvaar dat hulle deel is van die almal? Vra die Here om in jou hart ook ruimte te skep vir hulle.
God van almal, dankie dat U niemand uitsluit nie. Dankie, dat ek ook welkom is in U teenwoordigheid. Help my om ander met dieselfde openheid te ontvang waarmee U my ontvang. Amen.