Ons stap hierdie week stadig deur Jesus se woorde in Matteus 11:28: “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.
Vandag rus ons by “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is…”
Jesus noem dit eerlik: ons is vermoeid en swaar belas. Ons lewe in ’n samelewing wat uitputting verromantiseer. Mense kla dikwels, maar eintlik spog ons, oor hoeveel oortyd ons werk, hoe vol ons skedules, of die skedules van ons kinders is, of met hoe min slaap ons oor die weg kan kom. As iemand vra hoe dit gaan, voel ons amper skuldig om nie te sê “besig” nie, want dan kan dit dalk voorkom asof ons nie hard genoeg werk nie. Ons word ook belas met vrese en bekommernisse, wat nóg swaarder op ons skouers rus.
Jesus verromantiseer nie ons uitputting nie. Ons dra dinge wat te swaar geword het — verantwoordelikhede, vrese, teleurstellings, selfverwyt. Psalm 55:23 herinner ons: “Werp jou las op die Here; Hy sal jou versorg,”
Jesus nooi ons nie om sterker te probeer wees nie, maar om eerlik te wees. Om ons laste te noem en dit in sy hande neer te sit.
Een van die gevare van vermoeid en belas wees, is dat ons self gesentreerd raak – ons begin dink dat ons eie probleme die grootste is. Een van die beste maniere om jou eie gemoed te lig, is om iets te doen vir iemand anders wat oorlaai en onderdruk is. Die uitnodiging van Jesus nooi ons ook om rondom ons te kyk na ander wat dalk nog meer vermoeid en belas is as ons. Jesus se uitnodiging is vir almal, maar in besonders aan die mense wat die meeste onderdruk, vermoeid en belas is.
Wat is een las wat jy vandag bewustelik vir God kan gee — iets wat jy nie langer alleen kan dra nie? Noem dit by die naam en gee dit oor.
Hoe kan jy vandag help om iemand anders se las ligter te maak? Wie kan jy vandag in gebed aan die Here opdra, wat in besonder Jesus se uitnodiging nodig het?
Here, U sien my las en my moegheid. Ek plaas dit vandag by U voete neer. Leer my om weer asem te haal in U vrede. Help my om ook rondom my te kyk en ander raak te sien wat vermoeid en belas is. Mag U my gebruik om ook hulle las ligter te maak. Amen.