Ons stap hierdie week stadig deur Jesus se woorde in Matteus 11:28: “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.
Vandag rus ons by “…en Ek sal…”
Die bron van rus is nie ’n metode of ’n tydsbestuur tegniek nie – dit is ’n persoon. Jesus sê: Ek sal julle rus gee. Nie: “As jy alles mooi beplan” of “as jy jou lewe regkry” sal jy rus hê nie. Dit is nie nog iets wat ons moet doen nie, maar ’n verhouding waarin ons moet leef. In Johannes 14:27 sê Jesus: “Vrede laat Ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle.” Hy self is ons rus. Ware rus is nie iets wat ons doen nie, maar iets wat ons ontvang by die Bron van ware vrede. Rus kom ook nie wanneer alles in ons lewe perfek loop nie. Jesus gee ons sy rus ten spyte van die chaos van die wêreld rondom ons. Wanneer ons moeg is, het ons dalk nie ’n nuwe sisteem nodig nie, maar ’n nuwe ontmoeting met Hom.
Jesus se woorde hou ook ’n belofte in. “Ek sal”. Mag ons Hom vertrou om sy belofte na te kom, wanneer ons na Hom toe kom.
Waar probeer jy nog self jou rus beheer of verdien? Wat sou dit beteken om bloot te vertrou dat Jesus self genoeg is?
Here Jesus, U is my rus. Leer my om nie te soek na vrede buite U nie, maar om dit in U teenwoordigheid te vind. Amen.