Deur: Fanie Buys
Ek is gebore in ‘n Christenhuis met ouers wat gedoen het wat sou verwag word van die redelike Christenouer – ons saam kerk toe geneem, kinderkrans toe gestuur, Sondagskool laat bywoon en dan is ons ook aangeneem en voorgestel. Ek was onder andere by die CSV by ons skool betrokke en het CSV-kampe bygewoon. So, die voetwerk was sekerlik voldoende, of hoe?
Later kom dan grootmenswees, diaken, kerk toe gaan, ensvoorts. En so loop ek die pad, ‘n Christen, maar tog ook maar ‘n sondaar – iets kom kort!
Ek was al ‘n hele ent weg in my lewe, reeds kinders op hoërskool gehad, toe ons tydens Pinkster aan ds. Deon Loots se sienswyses bekendgestel is en dit my laat nadink het oor ’n vraag wat altyd maar in my agterkop rondgehang het – waarheen is ek op pad en wie is my reisgenote? Hy stel my toe aan dissipelskap bekend.
Dissipelskap is waarvan ons lees wanneer ons die 12 apostels wat Jesus gekies het, ontmoet. Hulle was elkeen op ‘n ander plek in hulle onderskeie geloofslewens, toe hulle die opdrag van dissipel wees, begin uitleef het. Jesus begelei hulle dan tot waar die dissipels later self ander kan begelei . . . wat ‘n reis!
Ons almal is ook op reis deur die lewe, en as jy hier lees, is God ook in jou lewe betrokke, maar is jy seker waar en hoe? Dit is waar die dissipelskapproses jou kan begelei, dit is ‘n proses om jou te help onderskei waarmee God in jou lewe besig is. Jesus het vir die apostels gesê: “Volg My!” Dié uitnodiging is aan ons almal gerig, maar ons het begeleiding nodig en dit is waar die dissipelskapproses ter sprake kom. Hier leer ek nie net waarmee God in my lewe besig is nie, maar ook hoe Hy my wil gebruik. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
My pad het nou verander van net kerk toe gaan, na ‘n pad saam met God, nie meer ‘n sondaar nie, maar iemand met sonde wat vergifnis ontvang – ’n dissipel van Jesus!
Ons dissipelskapgroep, bestaande uit sewe lede, het begin 2025 die geloofspad saam aangedurf. Ons kom weekliks op ‘n Donderdag byeen. Ons is reeds met module 2 van die dissipelskapkursus besig en gaan vroeg in Januarie op ons stil-retraite. Hierdie is nie ‘n kursus met ‘n einde nie – dit is ‘n proses wat aanhou.
Ek het nog altyd my Bybel gelees en gebid, maar Deon Loots se reeks het ’n groot verskil in my lewe gemaak deur konteks te gee aan dit wat ek gelees het. My gebed en kommunikasie met God het baie verdiep, in so ’n mate dat die Christelike dissiplines nie meer soos ’n verpligting voel nie, maar ’n behoefte geword het wat ek nie kan ignoreer nie.
Die groot waarde lê in die weeklikse samekomste. Ons leer geweldig baie nie net deur ons eie studie en ondersoek nie, maar veral deur die ander se terugvoer oor hulle ervaring en siening.
Ek wil medegelowiges aanmoedig om by die dissipelskapkursus in te skakel – dit gaan ’n ongelooflike verskil aan jou geloofslewe maak. Kyk gerus op www.dissipelskap.co.za om meer oor die kursusmateriaal te wete te kom en kontak asseblief vir ds. Johan Visser by johan@stellenberg.co.za / 072 603 3205 indien jy oorweeg om in 2026 by ’n dissipelskapgroep in te skakel.