Dagstuk | Dinsdag 21 Oktober 2025

Dagstuk | Maandag 20 Oktober 2025
Dagstuk | Woensdag 22 Oktober 2025

Genesis 1:31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed

As die Franciskaanse geestelike, Richard Rohr reflekteer oor hierdie gedeelte, maak hy dan die opmerking dat wie die Bybel ernstig neem die lewe altyd op ‘n positiewe noot kán en ook móét aanpak.

Ter motivering van sy uitspraak verwys Rohr na Genesis 1. Hier word vertel hóé God alles begin het. Hoe God, terwyl God besig was om te skep, meermale gekyk het na die werk van sy hande en dan uitgeroep het:”Dit is goed, ja báie goed.”

Hierdie seën beteken: ons lewe is bestem om goed en mooi te wees. Dít was God se bedoeling van die begin af. Dít is waarom ons hier is, dit is waarheen ons mik, waarvoor ons bestaan, leef en werk: om deel te kry aan hierdie oorspronklike seën van God. En om dít, hierdie inherente goedheid en skoonheid van God se skepping, gedurig te bly soek en ook deur woord en daad te help beskerm, versorg en sigbaar te maak.

Ongelukkig, en hierop wys Rohr ook, is ons geneig om ons lewe met Genesis 3 te begin, selfs daarin vas te val. Genesis 3 is die verhaal van die mens se sonde, skuld en verval – ‘n donker verhaal vol slegte keuses, probleme, skaamte, verwyte en wanhoop.

Hoewel baie gelowiges se lewenstemming en -praatjies deur die somber toon van Genesis 3 bepaal word, word ons geroep tot iets meer, iets beters. Dit is om te glo dat alles goed en ten goede is, en ook dáárvoor op die uitkyk te wees. En veral daarvoor te lewe.