Hierdie week wandel ons verder met gedagtes uit Kolossense 4:2-6.
Kolossense 2:5
“Tree met wysheid teenoor buitestanders op, en koop die tyd uit.”
Die 1983 vertaling stel dit so: “maak die beste gebruik van elke geleentheid”. Hoe weet jy wat ’n geleentheid is? Sal jy weet as jy dit sien? Is dit die groot oomblikke wat verskyn wanneer die tyd daarvoor reg is? As ons wag vir die perfekte geleentheid, gaan daar ’n klomp ander geleenthede by ons verby en kan ons selfs die perfekte geleentheid mis omdat ons dit te laat raaksien, soos kaptein Jack Sparrow in die Pirates of the Caribbean reeks ons herinner: “If you we’re waiting for the opportune moment, that was it”.
Om die tyd uit te koop, of die beste gebruik te maak van elke geleentheid, beteken nie om vir die perfekte oomblik te wag nie. Inteendeel, dit nooi ons uit om elke klein interaksie met vreemdelinge te sien as ’n geleentheid om in te bou in hul lewens en iets van die liefde van Christus vir hulle sigbaar te maak. Dit nooi ons uit om in die klein oomblikke nie op onsself en ons eie innerlike wêreld gefokus te wees nie, maar om op te let na die mense en die wêreld rondom ons en die geleenthede raak te sien om iemand anders se dag op te helder of hulp aan te bied waar ons nood sien. Jou inkopies, byvoorbeeld, is nie net inkopies nie, maar ’n geleentheid om met ander mense in gesprek te tree, om vriendelik te wees met ander en om te wys dat jy omgee.
Watter gewone oomblikke in my dag kan ek doelbewus gebruik om God se liefde te wys?
Dalk vra dit ook van ons om ons perspektief te skuif. Daar is ’n bekende gesegde: “never waste a good krisis”. Dalk is ’n krisis wat oor jou pad kom nie net ’n krisis nie, maar ’n geleentheid om God se liefde sigbaar te maak.
Mag jy vandag elke interaksie met ander en elke krisis wat oor jou pad kom as ’n geleentheid sien om Christus se liefde sigbaar te maak.
Here, help ons om waaksaam te wees en bewustelik te lewe, sodat ons elke geleentheid kan gebruik om u Koninkryk sigbaar te maak.
Amen.