Dagstuk | Donderdag 4 Desember 2025

Dagstuk | Woensdag 3 Desember 2025
Dagstuk | Vrydag 5 Desember 2025

Ons Adventsreis het Sondag begin toe ons twee besondere kerssangdienste gevier het wat ons dieper in die storie en betekenis van Kersfees innooi. Elke Sondag op pad na Kersdag steek ons ’n nuwe Adventkers aan — en hierdie week dink ons saam oor die kers van hoop.

Tema: Die hoop van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde
Skrif: Jesaja 65:17–19 – “Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep… Wees bly en jubel oor wat Ek gaan skep… Daar sal in Jerusalem nie meer iemand gehoor word wat huil of om hulp roep nie.”

Advent se hoop is nie net dat Jesus gekom het as ’n Kind nie — dit is dat Hy weer kom om alles nuut te maak. Die krip wys vooruit na die troon. Die hout van die krip wys na die hout van die kruis. En die kruis wys na daardie groot dag wanneer God alle trane van ons oë sal afvee.

Wanneer ons vandag die werklikheid van oorlog, gebrokenheid, geweld en omgewingsvernietiging aanskou, kan dit ons moedeloos maak. Maar Jesaja herinner ons: God se finale woord oor die wêreld is nie oordeel nie — dit is nuutheid. Nie verwoesting nie — maar herskepping. Die laaste woord behoort nie aan die dood nie, maar aan die Lewe.

Hierdie hoop maak ons nie passief nie. Dit gee ons krag om vandág te werk vir geregtigheid, versoening en genesing. Nie omdat ons dink ons kan die koninkryk op ons eie inbring nie, maar omdat ons weet: Jesus bríng dit — en Hy nooi ons om nou al tekens van sy nuwe skepping te wees.

Gebed
Kom, Here Jesus!
Maak ons oë oop vir die nuwe wêreld wat reeds besig is om deur te breek.
Gee ons moed om te leef as mense van U koms, sodat die wêreld iets van U nuwe skepping in ons kan sien. Amen.