Dagstuk | Vrydag 5 Desember 2025

Dagstuk | Donderdag 4 Desember 2025

Die kers van HOOP

Ons Adventsreis het Sondag begin met twee besondere kerssangdienste wat ons dieper in die verhaal en betekenis van Kersfees innooi. Elke Sondag op pad na Kersdag steek ons ’n nuwe Adventkers aan — en hierdie week dink ons saam oor die kers van hoop.

Tema: Die hoop wat in ’n Kind gebore word
Skrif: Jesaja 7:14 – “Die Here sal self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal Hom Immanuël noem.”

Die grootste rede vir hoop is ook die mees onwaarskynlike: God word ’n baba.
Die Almagtige huil.
Die Een wat die hemele dra, word in mensearms gedra.

Dít is hoe God hoop bring — nie deur mag, oorwinning of politieke krag nie, maar deur broosheid, eenvoud en afhanklikheid. In ’n wêreld wat krag aanbid, fluister Kersfees ’n teenoorgestelde waarheid: ware hoop lê nie op ’n troon nie, maar in ’n krip.

Dit beteken daar is hoop vir elkeen van ons. As God in ’n kind kan kom, kan Hy ook kom in die broos, klein en onmoontlike plekke van jóú lewe. Die Gekomene word steeds die Een-wat-kom — in ons vrese, ons onsekerhede, ons donker ruimtes.

Gebed
Here Jesus, U wat klein geword het om ons groot te maak, kom vandag weer in die klein en gebroke plekke van my lewe.
Word gebore in my hart, in my huis, in my land.
Laat die wêreld Immanuël — God-met-ons — in my kan sien. Amen.