Vandag is Maandag 5 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons Epifanie noem. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Die woord epifanie kom van die Griekse epiphaneia, wat dui op God se verskyning en manifestasie in Jesus. Die boodskap van Epifanie is dat die Kind wat gebore is, tot volwassenheid sal groei en sal sterf as die Offerlam. Epifanie roep ons as gelowiges op om die evangelie aan almal te vertel.
Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoe mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe dit hulle lewe beïnvloed. Hulle word so diep daardeur geraak dat dit hul identiteit bepaal en dat hulle bereid is om aanpassings te maak en selfs vir hul geloof te ly.
Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm. God is ook op onverwagse plekke teenwoordig, en ons kan aanleer om Hom buite ons eie kring raak te sien. Ons moet oop wees vir eietydse simbole van God se teenwoordigheid in ons midde.
God se lig het in ’n donker wêreld gekom om te skyn. Dit kan nie uitgedoof word nie, en dit begelei ons op ons lewenspad, soos ons uit die getuienis van die apostel Johannes leer:
“Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die wêreld toe gekom.” (Johannes 1:9)
“God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (Johannes 1:5)
Met hierdie nuwe jaar het ons tyd nodig om by Hom in stilte te kom rus. Epifanietyd gee ons ’n oor vir God se hartklop aan ons. In hierdie week se oordenkings gaan ons saam reflekteer oor hierdie tydperk van Epifanie en hoe ons onsself kan voorberei vir die jaar wat voorlê.
Here,
dankie dat U by en in ons teenwoordig is.
Laat ek ook hierdie jaar U lig ervaar
en dit deur my lewe uitdra.
Amen.