Vandag is Dinsdag 6 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons Epifanie noem. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoe mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm.
Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:
Bybelteks: Psalm 90:12
“Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid bekom.”
Wysheid: Praktiseer dankbaarheid.
Kultiveer ’n houding en ingesteldheid van dankbaarheid. Neem daagliks tyd om te dink oor die dinge waarvoor jy dankbaar is. Haal ASEM: Liefde in, dankbaarheid uit. Hierdie praktyk het ’n positiewe invloed op jou gemoedstoestand en lewenshouding. Wanneer ons dankbaar leef, sien ons iets van God se openbaring aan ons.
Hemelse Vader,
ek dank U vir die geskenk van ’n nuwe jaar.
Leer my om elke dag met wysheid te benut,
en mag ek dankbaar wees vir die geleenthede van vernuwing en groei wat voorlê.
Here, ek dank U vir die vorige jaar —
vir die hoogtepunte en selfs vir die uitdagings.
Leer my uit al hierdie ervarings
en neem die leiding in my lewe
terwyl ek die nuwe jaar inbeweeg met ’n hart vol dankbaarheid.
Amen.