Ons neem afskeid van Charlotte Schoeman

Huldeblyk aan ds. Nico Louw
Oudleraars: Sal ons ou vriende ooit vergeet?

Foto bo: Charlotte saam met haar man, Cobus.

Charlotte Schoeman was die afgelope vier jaar die ontvangsdame in die kerkkantoor. Dit is moeilik om Charlotte in ’n paar woorde saam te vat.  Met haar vriendelike persoonlikheid, uitsonderlike gawe van gasvryheid en die vermoë om elke besoeker hartlik te verwelkom, het sy vinnig in lidmate en kollegas se harte gekruip.

Charlotte is boonop uiters bekwaam en het elke taak met toewyding aangepak. Sy het altyd meer gedoen as wat van haar verwag is en was te alle tye bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop. Haar entoesiasme was aansteeklik en het merkbaar bygedra tot ’n positiewe gees in die kantoor.

Kollegas, lede van VatVyf, Bybelstudiegroepe en vele ander, groet Charlotte met ’n baie swaar hart. Haar empatie met mense lei daartoe dat sy vir diegene wat al met die harde terugslae van die lewe kennis gemaak het, ’n veilige hawe bied  – en só haar roeping as gelowige uitleef.

Ons staan Charlotte af aan ’n vorige werkgewer wat haar ’n nuwe betrekking aangebied het – hulle wins is werklik ons verlies.

Charlotte, ons wens jou alles wat mooi is toe vir die pad vorentoe. Ons gaan jou baie mis – jou opregte belangstelling in mense, jou sin vir humor, vriendskap, lojaliteit en eerlikheid. Ons weet dat jy ook in jou nuwe werksomgewing lewens sal aanraak, soos jy dit hier by ons gedoen het, maar die kerkkantoor van Stellenberg-gemeente sal beslis nie dieselfde wees sonder jou nie.