

Reeds vir baie jare kom ’n groep van meer as 20 vroue elke Maandagoggend bymekaar vir die Vrouebybelstudie onder leiding van Marieke Streicher, Anita Smit en Retha van den Berg (voorheen ook Mariëtte Hanekom en Rita Robertson). Oor die jare heen het ons al saam die lewens van Bybelfigure verken, nagedink oor die karaktereienskappe van God, deur die spreekwoorde van die Bybel gewerk, en gesels oor ’n lewe onder die salwing van die Heilige Gees. Tans stap ons deur die Evangelie van Matteus, waar ons by die gelykenisse stilstaan waarmee Jesus sy dissipels – en ook vir ons – geleer het.
Op Maandag 1 Desember het ons die jaar afgesluit met ’n gesellige byeenkoms, waar ons ook die geleentheid gehad het om te skilder en teken met ’n tema wat mooi by ons Bybelstudiejaar ingepas het. Marieke Streicher en Tertia Viljoen het vir ons waardevolle kunswenke gedeel sodat elkeen iets op papier of op ’n palet kon skep. Met verlange het ons teruggedink aan die lief en leed van die jaar, veral aan twee getroue lede wat ná siekbed oorlede is – Sannetjie Delport en Barbara de Kock – asook aan ons dierbare vriendin Estelle Karsten, wat ná ’n val verlam is en tans in Graanendal versorg word.
Ons Bybelstudie hervat weer op 19 Januarie 2026. Enige vroue uit die gemeente en die breër omgewing is baie welkom om op Maandae om 10:00 in die binneplein by ons aan te sluit vir verrykende Bybelstudie en egte geloofsgemeenskap, met ’n kort gebedsgeleentheid vooraf in die Stellenberg-kapel.