Die bekende historikus Felipe Fernández-Armesto se lewensmotto was dat alles in die lewe afhang van hoe ons daarna kyk. Met ’n ander oog, uit ’n ander hoek, lyk dinge heeltemal anders. In een van sy geskiedenisboeke vertel hy hoe hy die geskiedenis lees: altyd binne perspektief. Wat vandag ongelooflik belangrik lyk, kan môre in onbenullige vergetelheid verdwyn; en dit wat vir ons ongemerk verbygaan, kan in ’n groter perspektief juis van blywende waarde wees.
Ek dink Armesto se manier van kyk bevat ’n diep Bybelse oortuiging. Dat dinge, met tyd en afstand, anders lyk as wat ons elke dag dink en voel. Die hart van die Christelike geloof vra juis van ons om te leer om vanuit ’n ander oogpunt te kyk. Miskien is dit, hier aan die begin van nóg ’n jaar, ’n goeie tyd om dinge ’n slag uit so ’n ander perspektief te bekyk—met groter afstand, teen ’n breër doek, vanuit ’n hemelse perspektief. Want die dinge wat ons begeer, en die dinge wat ons vrees, lyk uiteindelik anders… dit hang af van hoe ons kyk.
Ek lees graag ’n gebed van die Corrymeela-gemeenskap:
God van die nuwe jaar,
God van ons aaneenlopende stories:
ons bid vir hulle wat hierdie jaar binnestap
met angstigheid,
met moegheid,
met hartseer.
Ons bid vir onsself,
en ons bid dat hierdie ’n jaar sal wees van restourasie,
van lewens gevul met nuwe hoop.
Sodat ons, in plaas daarvan om te bid dat iets sal eindig,
opnuut die vreugde sal ontdek
van ’n nuwe begin.
Amen.