https://youtu.be/h2SGWJaKHy4
Vandag is Kersfees, waar ons Jesus Christus se geboorte vier – die grootste geskenk van liefde.
4Liefde bly geduldig,
liefde gee om,
liefde is nie jaloers nie,
spog nie,
en is nie verwaand nie.
Tot op hierdie punt het Paulus gesê dat enige iets wat ons kan sê of doen, nutteloos is sonder liefde. Hier draai sy boodskap na wat liefde is. Liefde bly geduldig. Liefde gee om. Liefde is nie jaloers nie, spog nie en is nie verwaand nie.
Wat kom by jou op wanneer jy hierdie woorde hoor? Geduldig, omgee, nie jaloers nie, spog nie, is nie verwaand nie? Watter van hierdie is tekens van liefde in jou lewe en watter kom vir jou moeilik?
Vandag, op Kersdag, kan ons maklik fokus op wat ons moet doen en hoe ons moet liefhê. Maar Kersfees gaan in die eerste plek oor die liefde van God vir ons as mens. Hierdie woorde is nog meer waar vir die liefde wat God vir ons het as die liefde wat ons vir mekaar moet hê.
Vandag, dink aan God se liefde en geduld vir jou. Dat God jou so lief het dat God mens sou word en sy lewe sou gee vir ons, sodat ons in Hom lewe mag hê. Mag God se liefde vir jou, jou vandag inspireer tot groter liefde vir God, vir jouself, jou naaste en die die aarde waarop ons leef.
Amen.
Here God, vandag is ons opnuut dankbaar vir U onverganklike liefde vir ons. Daar is niks wat ons moontlik sou kon terug gee wat opmeet tot U liefde nie. Help ons nogtans, Here, om met groter liefde te leef. Mag ons liefhê, soos wat U ons lief het.
Amen.